Red die planeet een vierkante meter op 'n slag
Kontak: 0783343867

Misbestuur? Van die melkplaas tot kompos. Deel 1

Nou ja, terwyl ek opsoek is na ‘n afrikaanse weergawe van manure management, gebruik ek solank die woord misbestuur! In hierdie artikel gaan jy ‘n paar keer die woord “mis” (en verskillende vorme daarvan) raak lees. Ek stel die afgelope paar jaar belang in die misproduksie van melkbeeste en hoe om die hoeveelheid mis wat deur melkplase geproduseer word, effektief te bestuur. Daarom die begrip: misbestuur.

Volgens statistieke is Suid-Afrika se melkkuddes die 4de grootste in die wêreld met gemiddeld 238 koeie per melkplaas (http://www.proagri.co.za/nuus/jongste/SA-se-boere-melk-baie-koeie.html). ‘n Melkbees produseer gemiddeld 50kg beesmis per dag. Dit wil sê dat Suid-Afrikaanse melkkuddes gemiddeld 11 ton beesmis per dag produseer. Hierdie mis val normaalweg oor ‘n wye oppervlakte op die melkboer se plaas en ‘n  gedeelte daarvan in die melkstal. Melkstalle word daagliks skoongemaak en die nat mis, moet iewers op die plaas beland. In onlangse tye begin melkboere al meer hulle koeie op kraal hou en die voer word van die land af aangery kraal toe, met die gevolg dat die oppervlakte waarop die beesmis beland al hoe kleiner word en duisende rande word per maand gespandeer om hierdie kraalmis effektief te bestuur. In sommige gevalle word hele melkkuddes deesdae onder dak of op sementvloere gehou, wat weer ‘n verdere druk plaas op hierdie melkplase se misbestuur program.

Die melkstal waar ek tans mis gaan haal, spoel daagliks sowat 3 ton beesmis uit die melkstal tot in ‘n put. Hierdie put was normaalweg maandeliks met behulp van ‘n laaigraaf skoongemaak en die mis is dan ‘n paar honderd meter verder op ‘n hoop gegooi. Aangesien die mis nat is, vat dit maande om droog te word en nog baie maande later voordat dit voldoende afgebreek het om op die lande te strooi.

melkplaasweb_0

Ek het aanvanklik beesmis uit hierdie put met emmers en ‘n graaf geskep en dan vir my erdwurms begin gee. Met tyd het my erdwurmboerdery so gegroei dat die emmers nie meer kon voorbly nie. Ek het toe ‘n misroerder, misskeier en mispomp aangeskaf om die probleem te help oorkom. Die eienaar van die melkplaas was so be-indruk met hierdie mistoerusting, dat hy dit onmiddelik by my oorgekoop het. (Hy was bang ek vat dit om een of ander rede daar weg.) Ek het vandag 4 bakkie vragte beesmis uit die misput gaan haal en vir my erdwurms gegee – ek hoop om van nou af elke dag soveel te gaan haal. Dis seker oorbodig om te sê, maar sedert hierdie toerusting ge-installeer is, het die melkboer nie meer probleme met sy stalmis nie.

Ek het ‘n kort video op Youtube gelaai om te wys hoe hierdie mistoerusting werk:

Die toerusting gaan eersdaags te koop wees. Vir die selfdoen entoesiaste, gaan ek ook die bouplanne daarvan beskikbaar stel.

Hierdie is die eerste deel oor effektiewe misbestuur by melkplase. Ek sal eersdaags die verdere voordele van hierdie mistoerusting uitlig. As ook hoe die eindproduk lyk.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.