Landbou
Misdaad:
Regering 'moet betaal'
Isabel Stoltz

Die Regering kan nie sy grondwetlike verpligting om ’n veilige omgewing vir burgers te skep so gruwelik versuim en dan skotvry daarvan afkom nie, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die Cullinan-boere-unie.
“Misdadigers betaal nie belasting nie, maar slagoffers wel. Daar is ’n skraal moont-likheid dat hulle gevang word en in die tronk beland, maar selfs dan kan misdadigers staat maak op kos, verblyf, klere, gratis mediese dienste en selfs studie – waarvan die rekening deur die belastingbetaler vereffen word.
“Slagoffers se hospitaalkoste en verliese weens misdadigers se optrede is vir hul eie rekening en baie boere het nie mediese fondse nie. Die Regering moet daarvoor pa staan weens beleid wat ’n misdadiger-vriendelike omgewing skep,” sê Meintjes.
Dié unie gaan voortaan die uitgawes en verliese van slagoffers van plaasaanvalle voor die Regering se deur lê en is reeds besig om eise in twee gevalle voor te berei.
In die jongste aanval in die Cullinan-distrik is mnr. Kobus Cronjé van die plaas Donkerhoek in die nek geskiet en sy vrou met ’n gholfstok geslaan en só erg aangerand dat haar vingers en arms gebreek is. Hul seun is ook aangerand.
Cronjé is by twee staatshospitale weggewys omdat hulle glo vol was. Die Montana-hospitaal het hom glo ook weggewys omdat hy nie ’n deposito van R500 000 kon betaal nie omdat hy nie ’n mediese fonds het nie. Hy is na bewering “onder druk” by die Ga-Rankuwa-hospitaal opgeneem, waar hy ’n paar dae later dood is.
Sy gesin is nou sonder ’n broodwinner en hul lewe het handomkeer verander. “Die gesin gaan deur ’n ongelooflike trauma en die gemeenskap saam met hulle. Maar hoe behandel jy ’n hele gemeenskap? Boeregemeenskappe is heg en dit ruk almal,” sê Meintjes.
Hy is besig om ’n databasis oor misdaad op plase op te stel omdat inligting nie deursigtig deur amptelike kanale beskikbaar gestel word nie.
Hy meen ’n aanpassing is nodig aan die standaarde waaraan die optrede van ’n “redelike mens” gemeet word in sake waar slagoffers ’n aanvaller skiet. “In Suid-Afrika het standaarde vir die toets van redelikheid verander en howe moet dit in ag neem.
“In die omstandighede waarin ons leef, het die man op straat in ’n konfrontasie met ’n misdadiger die keuse om doodgeskiet te word of dalk tronk toe te gaan. Hy het ’n breukdeel van ’n sekonde om dié besluit te neem. Dit is die werklikheid in Suid-Afrika.”
Meintjes sê ’n misdadiger se kans om ’n “slagoffer” van die gereg te word, is sowat 7 % teenoor ’n kans van 100 % wat ’n wetsgehoorsame burger het om die slagoffer van ’n misdadiger te word. “Met ’n kans van 7 % om gevang en skuldig bevind te word, is dit vir ’n misdadiger die moeite werd om iemand vir R23 te vermoor.”
Een van Meintjes se bure, mnr. Jacob van der Westhuizen (75), is in sy arms dood. “Hy is met klippe doodgeslaan en was onherkenbaar geskend. Sy moordenaar was ná die moord R23, ’n paar skoene, ’n broek en ’n wekker ryker.”
’n Boervrou is aan ’n boom vasgebind, verkrag en so erg met ’n klip aangerand dat sy drie maande in ’n koma was en rekonstruktiewe chirurgie aan haar kop en gesig moes ondergaan.
In albei gevalle is die misdaadtoneel na bewering nie behoorlik ondersoek nie en het die polisie belangrike bewysstukke aanvanklik misgekyk.
Volgens Meintjes moes foto’s van ’n misdaadtoneel oorgeneem word nadat hy ’n bebloede klip raakgesien en dit uitgewys het. Nie ál die merkers is weer op presies dieselfde plek geplaas nie en die twee stelle foto’s verskil dus. “Op grond van sulke foute kan moordenaars los rondloop.”
Vyf mans het mnr. Andries Pretorius van dieselfde omgewing soos roofdiere aangeval en stukkend gebyt. Hy is ook met bakstene toegetakel. Hy het in die hospitaal beland en moet anti-retrovirale behandeling kry. Hy en twee vriende wat ondersoek na verdagte tekens op sy plaas ingestel het, is onder meer van ’n bakkie, ’n vuurwapen, selfone en sleutels beroof.
Bogenoemde voorval het op 2 April vanjaar plaasgevind. Teen 8 April is verklarings nog nie afgeneem nie, die toneel nog nie ondersoek nie, vingerafdrukke (op ’n bottel wat op Pretorius se kop stukkend geslaan is) nog nie geneem nie en geen bloedmonster al ondersoek nie (een van die aanvallers is in die skouer gewond).
Uit herhaalde telefoonoproepe en besoeke aan die polisie kon Pretorius niks wys word oor die ondersoek nie. Die saak is heen en weer tussen polisiebeamptes geskuif. “Die indruk wat ’n mens kry, is dat die aanval stilswyend goedgekeur word,” sê Pretorius in ’n verklaring.
“Teen ’n tempo van 30 gevalle van prioriteitsmisdaad per maand in ons landelike gebied gaan elke mens ten minste een keer per jaar die een of ander vorm van misdaad beleef,” sê Meintjes.
Die unie gaan voortaan ná elke aanval ’n brief aan pres. Thabo Mbeki skryf en ’n skadevergoedingseis namens die slagoffers teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit instel.
Net in die Bosveld-gebied van Alma, Vaalwater, en Mookgopong (Naboomspruit) was daar volgens die plaaslike koerant, Die Pos, sedert Januarie vanjaar sewe plaasaanvalle. In een voorval is die bejaarde Botha-egpaar vermoor. Mnr. Charles Botha (72) se hakskeensenings is onder meer afgekap. In drie van die gevalle is die polisie geloof vir hul optrede.
Mnr. Martin Potgieter, voorsitter van die Anti-wilddiefstalaksie (AWDA) op Hoedspruit en eienaar van ’n veiligheidsmaat-skappy, sê mense oordeel die polisie dikwels te hard. “Die polisie werk nie in maklike omstandighede nie.
“Wilddiewe en ander misdadigers, en soms hele gemeenskappe, openbaar ’n arrogansie en totale gebrek aan respek vir die polisie wat dit weens intimidasie en doodsdreigemente moeilik vind om hul pligte uit te voer. Daar is geen ondersteuning in dié verband van die Regering nie. Geregsdienaars en wetsgehoorsame burgers is banger vir die gereg as booswigte self.”
Dit blyk dat optrede uit verskeie oorde aan die gang is om ’n databasis oor die werklike misdaadsituasie op plase in Suid-Afrika op te stel en dat boere in landelike gebiede planne maak om na hul eie veiligheid om te sien.

Steunkringe groei

“’n Plaasaanval is nie net ’n koeël in die kop nie. In sommige gevalle hou martelings ure lank aan en word slagoffers se liggaamsdele afgesny terwyl hulle leef,” sê me. Annette Kennealy, wat by steunkringoptredes in Limpopo betrokke is.
Die doel van die steunkringe is om voorkomend op te tree. Hulle maak ’n groot ver-skil in die gebiede waar hulle aktief is, sê sy.
In dié provinsie word steunkringe die “groen polisie” genoem omdat hulle hulself met groen ligte en magneetbande identifiseer.
Die basiese eenheid bestaan uit ’n plaaswag waar tot 10 plase in ’n onmiddellike omgewing op ’n eie kanaal in radioverbinding met mekaar is. Elke plaaswag het sy eie leier en lede van die wag tree op ná minder ernstige aanvalle in hul eie omgewing.
Die verskillende plaaswagte in ’n gebied vorm saam ’n steunkring, met ’n oorhoofse leier. Alle lede van die wagte is op ’n noodkanaal met die steunkring in verbinding. Die steunkring word tydens ernstige misdade en noodgevalle geaktiveer. Die hele steun-kring reageer dan onmiddellik, met optrede wat deur die kringleier gekoördineer word.
Alle plaaswaglede ontvang noodhulpopleiding en elkeen het ’n toegewysde taak in ’n noodgeval, soos om paaie af te sper, spoor te sny, noodhulp op beseerdes toe te pas, patrollie te ry of om te sien na kinders wat geraak word.
Lede ontvang opleiding in onder meer selfverdediging, wapenhantering, wetsas-pekte en aanvalscenario’s. Kinders word geleer hoe om in noodsituasies op te tree. Noodgevalle word nageboots en noodplanne ingeoefen om paraat te bly.
Meer as 100 boere het gereageer toe ’n boer by Mara doodgeskiet is. Hulle het vier dae lank die moordenaar se spoor gevolg met behulp van private lugbystand nadat die polisie nie gereageer het op ’n versoek vir lugbystand nie.
Met die onlangse onrus by die maksimumveiligheidstronk buite Makhado (Louis Trichardt) is die steunkring se hulp deur die tronkbestuur ingeroep om te keer dat gevangenes ontsnap.
Boere het ná die vlaag aanvalle op Makhado ’n ondersteuningsoptrede op dié dorp uitgevoer waartydens 30 voertuie die strate gepatrolleer het. In die proses is kabeldiewe betrap, onwettige immigrante aangekeer en ’n onwettige slagplek vol diere-afval in die rivier opgespoor. “As boere kan optree om misdaad te keer, hoekom kan die polisie nie? Ons het almal ’n dagwerk en ons onderhou as belastingbetalers die polisie wat veronderstel is om die werk te doen, maar ons kan nie langer ons veiligheid delegeer nie,” aldus Kennealy.
Die steunkringe het op inisiatief van die TLU SA tot stand gekom, maar enigeen kan hulle daarby aansluit. Hulle groei stewig en is ook reeds in die Vrystaat bedrywig.