Landbou
Boere te gelate, onbetrokke
MARITHA DU PLESSIS-SWART

In die laaste artikel in die reeks oor die berading van slagoffers van plaasaanvalle en hul naasbestaandes verduidelik 'n vrywillige berader die impak van boere se onbetrokkenheid by plaas-aanvalle.

In die vyf jaar wat sy en haar organisasie, Thabita, al meer as 100 slagoffers van plaasaanvalle emosioneel en finansieel bygestaan het, het me. Lita Fourie (46) van Letsitele ontdek dat baie boere 'n onbetrokke of gelate houding teenoor plaasaanvalle inslaan.

"Weet jy hoeveel boere het al vir my gesê: 'Moenie jou probleme ons s'n maak nie.' Ander boere het al in my gesig vir my gesê: 'Ons is bang dat as ons betrokke raak, word ons dalk deur moontlike aanvallers gebrandmerk en self aangeval.' Baie boere sê ook hulle hoef nie betrokke te raak nie omdat hulle voldoende beveilig is met byvoorbeeld alarmstelsels en honde.

"'n Weermag-offisier het al selfs die telefoon in my oor neergesit toe ek hom gevra het om betrokke te raak. Hy het daarna geweier om die telefoon te beantwoord wanneer ek bel. Ek het al met baie mense te doen gekry wat soos hierdie mense geredeneer het en wat agterna self aangeval is of wie se geliefdes vermoor is. Sulke mense se selfverwyt daarna is iets verskrikliks - hulle herstel nooit daarvan nie, maar dit is dan te laat om iets daaraan te doen."

Fourie meen boere (en die publiek in die algemeen) se onbetrokkenheid en gelatenheid is aan drie dinge te wyte. Eerstens is die mens só ingestel dat hy onaangename dinge vermy. "Ons hoop dat 'n probleem sal weggaan as ons nie daaraan dink nie. Ons is ook geneig om te glo slegte dinge gebeur net met ander mense. Dit is egter veral omdat die media die wrede werklikheid van die publiek weerhou. Dit is tyd dat boere na foto's en polisievideo's van plaasaanvalle gaan kyk sodat hulle kan sien wat op hulle en hul gesin wag as hulle nie voorbereid of opgelei is om plaasaanvalle te ontlont of om hulself in 'n plaasaanval suksesvol te verdedig nie."

In die vyf jaar ná haar ouers se wrede moord en waarin sy slagoffers en hul naasbestaandes bygestaan het, het Fourie ontdek dat boere oombliklik ná 'n moord baie opstandig is. Tydens die eerste hofverskyning van die aanvallers daag honderde boere en mense met betogingsplakkate op. Tydens die tweede hofverskyning is daar nie eens een derde van dieselfde boere oor nie en by die derde hofsitting sukkel 'n mens om boere bymekaar te maak om te kom betoog. Almal het dan skielik 'n verskoning om nie te kom nie. Die vermoorde boer is dan maar net nóg 'n mossie wat geval het."

Om opleidingskursusse en inligtingsessies vir boere te reël waar hulle geleer word om plaasaanvalle vroegtydig te identifiseer en hulle daarop voor te berei, is volgens Fourie eweneens onsuksesvol.

"Boere stel net nie belang om te kom nie. Jy sukkel om tien by só 'n sessie te kry. Hulle sê eenvoudig hulle is goed genoeg beveilig met alarmstelsels, honde en betroubare, geliefde werkers. Dít terwyl 'n kenner, soos mnr. Lukas Swart wat al 14 jaar lank navorsing na plaasaanvalle doen en wie se taktieke al 538 uit 538 plaasaanvalle voorkom het, sê dat veiligheidstelsels en honde maar sowat 16 % beskermingswaarde het.

"Die aanvallers kom baie maklik verby sulke stelsels, ongeag hoe goed. Intimidasie van 'n huiswerker om die sleutels vir hulle te gee om afdrukke van te maak is maar een voorbeeld. In my ouers se geval het een van hul betroubaarste werkers wat 15 jaar lank by hulle gewerk het, die hele wrede moord beplan.

"Baie plaasaanvallers wag ook boere by plaashekke en elders weg van die opstal in. Dan help alarmstelsels jou nie veel nie. Vuurwapens, volgens Swart, is soms eerder 'n hindernis as iets anders. Hy sê misdadigers gee iemand wat 'n vuurwapen dra geen kans nie. Hulle skiet hom eers dood en plunder dan. Misdadigers is baie intelligent. Al steek jy die vuurwapen hoe goed weg, hulle weet wanneer jy een dra. 'n Mens moet weet wanneer om gewapen te wees en wanneer nie."

Fourie verwag 'n toename in plaasaanvalle - veral met die grondeisekwessie. "Om sake te vererger, word mense nou ontwapen en is die kommandostelsel daarmee heen. Hoe sal ons boere oorleef as ons nie ander planne maak nie? Raak paraat. Woon opleidingsessies deur kenners van plaasaanvalle by, leer met alternatiewe wapens terugveg en raak betrokke by jou bure.

"As aanvallers sien ons boere staan bymekaar en is paraat, sal hulle te bang wees om toe te slaan. Ek het aanvallers al dikwels in hofsake hoor sê hulle is bang vir wat met hulle kan gebeur as die boere hulle in die hande kry."

Fourie werk nou saam met drie ander kenners van plaasaanvalle, mnr. Lukas Swart, wie se reeks oor plaasveiligheid onlangs in Landbouweekblad verskyn het, en mnre. Fritz Ahrens en Doors le Roux van die TLU SA.

Ahrens is voorsitter van die Louis Trichardt-boerevereniging en dagbestuurslid van die Soutpansberg-distrikslandbou-unie (DLU).

Le Roux is medevoorsitter van veiligheid in die Louis Trichardt-boerevereniging asook dagbestuurslid van die DLU Soutpansberg. Ahrens leer boere onder beskerming van oud-kolonel Gideon Meiring, voorsitter van die DLU Soutpansberg en ondervoorsitter van veiligheid van die TLU SA, hoe om enige soort wapen (vuur- en alternatiewe wapens) te hanteer.

Le Roux is betrokke by die opleiding van boere in 'n noodplan vir plaasaanvalle.

Fourie werk tans aan 'n boek met die verhale van slagoffers en besonderhede van die moorde. "Die doel is om te leer uit moontlike foute wat slagoffers begaan het en wat hulle hul lewe gekos het."

  • Navrae: Me. Lita Fourie (trauma-berading) by 083 648 9952 en mnr. Lukas Swart by 072 249 5196.

    Wapenopleiding is belangrik
    Die voorsitter van die Louis Trichardt-boerevereniging en dagbestuurslid van die Soutpansberg-distrikslandbou-unie, mnr. Fritz Ahrens, is deel van 'n groep wat mense oplei om enige soort wapen wat in 'n plaasaanval gebruik kan word, te hanteer. Hulle het die afgelope twee jaar al 1 500 mense opgelei.

    Kursusgangers word onderrig in alle fasette van die hantering van verskillende soorte vuurwapens, soos pistole, rewolwers, haelgewere en masjiengewere (R4's en selfs AK 47's), storings, verskillende vuurposisies op 'n skietbaan en skiet vanuit bewegende voertuie.

    "Ons konsentreer sterk op alternatiewe wapens waarmee mense hulself in 'n aanval kan verdedig. Omdat 'n mens dikwels onverhoeds aangeval word, moet jy leer hoe om jouself met enige alternatiewe wapen tot jou beskikking te verdedig. Ons leer mense om met enigiets te veg, van gebreekte borde, gebreekte bottels tot hoe om verkragters te hanteer."

    Kursusgangers word ook die wetlike kwessies van wapengebruik geleer. "Een goeie wenk: As jy iemand geskiet het, bel eers jou prokureur en daarna die polisie sodat jy nie verkeerd aangekla word nie."

    Ouderdom is nie 'n kwessie nie. Kinders van net 10 jaar is al suksesvol opgelei. "Ek het al selfs 'n 85-jarige oom in 'n rystoel geleer hoe om homself te verdedig."

  • Navrae: Mnr. Fritz Ahrens, 082 897 0068.

    Plaaswag met 'n verskil
    Goeie buurmanskap kan 'n sterk teenvoeter teen plaasaanvalle wees, sê mnr. Doors le Roux, die Louis Trichardt-boerevereniging se voorsitter van veiligheid en ook dagbestuurslid van die Soutpansberge se Distrikslandbou-unie. "Ons lei mense op in die stigting van 'n ondersteuningstelsel as teenvoeter vir plaasaanvalle. Dit is 'n soort plaaswagstelsel bestaande uit sowat 10 gesinne. Elke gesin het alle inligting oor sy bure wat in 'n aanvalsituasie nodig kan wees."

    Le Roux sê boere het deesdae geen keuse as om saam te staan nie. "Groot verwagtinge is by 'n menigte swart mense geskep met die oorgang van die vorige regering na die huidige. Beloftes is nie nagekom nie. Van hierdie mense beskou dit dus nou as hul reg om die dinge wat aan hulle belowe is vir hulself toe te eien."

    Hy sê die nuwe vuurwapenwet maak dinge nie makliker nie. "Dit beperk die gebruik van doeltreffende wapens terwyl aanvallers 'n wye keuse wapens het wat hulle kan gebruik. Voeg daarby die ontbinding van die kommandostelsel en wetstoepassing wat net aan die polisie oorgelaat word asook oud-kommandolede wat ontneem is van hul wapens waarmee hulle hul gesin en eiendom kon verdedig.

    "Boere woon op afgeleë plekke en kan dikwels nie op die polisie staatmaak om vinnig op die toneel te kom nie, terwyl bure baie vinniger daar kan wees."

    Die sleutelelemente van die steunkringe wat deur die TLU SA aangevoor is as deel van die landelike beveiligingsplan, is:

  • Ken jou buurman: Elke lid van die steunkring moet die volgende van sy buurman weet: Die name van almal in die gesin, die plaas se naam, telefoonnommers en hoe hy gekontak kan word, hoeveel mense in die huis woon, ly enigeen in die gesin aan allergieë of kwale, soos asma, watter voertuie is daar en wat is die registrasienommers, hoe lyk die huis binne asook die werf, waar sal die kinders wegkruip in geval van nood, is daar kwaai honde op die werf (indien wel, maak vriende met die hond ook), wie is die naasbestaandes en die huisdokter.
  • Kommunikasie: 'n Baie betroubare kommunikasiestelsel is noodsaaklik. Burgerbandradio's is die betroubaarste. Landlyne word te maklik gesaboteer en daar is nie oral selfoonontvangs nie. Kort selfoonboodskappe is te onbetroubaar in 'n noodsituasie.
  • Gebiedsbeveiliging: Kyk na opstalle en skure (veiligheidsheinings, diefwering, sekuriteitshekke, alarms, sleutelbeheer, nodige ligte, honde). Beveilig die plaaswaggebied deur middel van toegangsbeheer, valhekke, ongereelde patrollies, identifikasie van plaaswerkers en geen verdraagsaamheid jeens vreemdelinge. Wees wakker, keer vreemdelinge voor en vra na hul besigheid.
  • Noodaksieplan: Vroue en kinders moet by die plaaswag-aksieplan ingesluit word. Dié plan moet maklik en uitvoerbaar wees. Gee veral aandag aan kommunikasie, die afsny van moontlike ontsnappingsroetes, die verskuiwing van vroue en kinders na 'n veilige plek ingeval van 'n aanval en kleredrag (as die aanvaloproep oor die radio kom, kan jy nie in pantoffels en nagklere by die plek van nood opdaag nie).

    Die aksieplan moet deeglik geoefen word.

    Almal in die steunkring moet noodhulp-opleiding kry en elke huishouding moet 'n noodhulpkissie met die regte benodigdhede hê.

  • Plaaswag: Plaaswaglede asook hul vrou en kinders moet opgelei word in die hantering van vuur- en alternatiewe wapens en die regsaspekte hiervan, noodhulp, radiogebruik en prosedures en die identifisering van plaasaanvaltekens. Die plaaswag moet gereeld met die steunkring kontak maak. "Oplettendheid en wakkerheid het al menige lewe gered. Ons is tans landwyd besig om hierdie soort plaaswagstelsels in te stel. Omdat ons nie oral kan wees nie, is ons op soek na instrukteurs (landwyd) vir wie ons kan oplei en daarna terugstuur na hul onderskeie gebiede."

  • Navrae: Mnr. Doors le Roux, 082 898 5773. 30 September 2005