Landbou.com SAWeb
Plaasaanvalle (5):
Verras booswigte met deurdagte plan
Lukas Swart

Om gereed te wees vir die dag as iemand jou op jou plaas aanval, moet 'n mens vooraf visualiseer wat alles tydens 'n aanval kan gebeur en vooraf planne beraam oor hoe om in elke moontlike situasie op te tree.

Tegnieke vir sielkundige oorlogvoering waarmee boere aanvallers die aftog kan laat blaas, word hier bespreek. Dit word aan die hand van werklike gevalle gedoen. In die een geval het 'n tipiese skokreaksie 'n man en sy vrou se lewe gekos, terwyl die slagoffer in die ander voorval ongeskonde daarvan afgekom het.

In die eerste geval het 'n boer en sy vrou niksvermoedend by hul huis ingestap waar hulle deur aanvallers ingewag is. Die aanvallers het, danksy voorafverkenning (lees die kassie Wat gebeur voor die tyd?), geweet dat die man 'n pistool by hom dra en hom summier doodgeskiet. (Lees gerus in my boek, Oorwin Plaasaanvalle, waarom dit gevaarliker is om gewapen rond te loop as om ongewapen te wees). Toe haar man dood op die grond neerslaan, het die vrou gereageer met "Anybody for tea?" Die aanvallers het die tee-aanbod aanvaar en haar toe verkrag en vermoor.

Belaglik? Moenie glo nie. Daar is heelwat soortgelyke voorvalle.

Waarom het die vrou dan só irrasioneel opgetree? Daar is meer as een antwoord. Dit was nie net van skok nie. Sy het die tipiese fout gemaak wat talle mense maak, naamlik om te dink "sulke goed gebeur net met ander mense" of "ons behandel ons werkers só goed dat hulle ons nie sal aanval nie." Daarom het sy nie vooraf planne beraam oor wat haar te doen staan as hulle dalk aangeval word nie.

'n Goeie verhouding met jou werkers vrywaar jou nie van plaasaanvalle nie. As die werker skuld het, gee hy nie om wie hy aanval nie. Jou getrouste werker kan boonop sodanig deur die bure se werkers gei¨ntimideer word dat hy nie 'n ander keuse het as om aan die aanval deel te neem nie.

Voordat ons kyk na hoe om tydens aanvalle op te tree, is dit nodig om te verstaan watter uitwerking skok op mense kan hê en hoe die brein werk in 'n skoksituasie. Skok het sekere fisiologiese reaksies tot gevolg wat 'n mens instinktief en irrasioneel kan laat optree. Sommige mense skrik hulle só disnis dat hulle fisiek lam word en niks verder kan doen nie. Ander kry leeuemoed en begin skree en vloek en probeer selfs die aanvallers aanval. Die gevolg vir hulself is noodlottig. Hulle besef nie dat die aanvallers nie skroom om te moor wanneer iemand hulle kwaad maak nie (lees die artikel in Landbouweekblad van 6 Mei oor die profiel van 'n aanvaller).

Volgens navorsing is 'n mens se normale dinkspoed ongeveer 800 begrippe of woorde per minuut. Skrik jy, verhoog dit tot meer as 3 750 begrippe per minuut en word jy in staat gestel om letterlik binne 'n breukdeel van 'n sekonde tot sewentien planne uit te werk.

Die brein werk byna soos 'n rekenaar. Jou brein dink in beelde en val terug op die inligting wat jy daarin bêre. Wanneer jy dus in jou verbeelding visuele planne maak oor wat om te doen tydens 'n aanval, bêre jou brein daardie beelde in die onderbewussyn en roep dit dadelik op wanneer jy aangeval word.

Met ander woorde as jy met 'n skokkende situasie gekonfronteer word, skakel die bewuste deel van die brein oor na die onderbewuste en soek blitsig na ál die planne wat jy in die verlede rakende soortgelyke situasies gemaak het. Jou brein sorteer hierdie opgebergde data en verskaf oombliklik vir jou 'n werkbare plan. Sodra jy die voorafbedinkte werkbare plan kry, is jou optrede koel, kalm, beredeneerd en geloofwaardig en kan dit jou lewe red.

Maar as jy nooit vooraf planne gemaak het oor hoe om in sekere situasies op te tree nie, "vries" jou brein (soos wat soms met rekenaars gebeur) as jy aangeval word. Jy gryp dan desperaat na die eerste en beste strooihalm om die situasie te probeer red.

Dit is hoekom die vrou vir die aanvallers tee aangebied het. Sy het nie vooraf enige planne beraam nie. Sy kon net die TV-advertensie oproep waarin voorgegee word dat 'n koppie tee enigiets wat skeefloop, sal regmaak. Omdat sy dit soveel keer gesien het, het dit in haar brein vasgesteek as die ideale oplossing vir enige noodsituasie. Hoe meer 'n mens iets herhaal, hoe beter onthou jy dit.

Om vooraf sekere optredes te verwag en doelbewus teenvoeterplanne te maak vir ingeval dit gebeur, werk. In die weermag is ons opgelei in "onmiddellike handeling-oefeninge." Die Engelse noem dié verskynsel "muscle memory." Ons moes byvoorbeeld aanhoudend planne uitdink oor wat ons sou doen as ons voertuig oor 'n landmyn ry. Ons moes dit oor en oor oefen sodat die brein dit só stewig kon vaslê dat dit die eerste ding is wat hy sou oproep as dit wel gebeur het.

Gevolglik het ons elke keer as ons 'n landmyn afgetrap het, groot geskrik ('n normale fisiologiese reaksie), maar dadelik ons kalmte van gees herwin omdat ons vooraf presies geleer en geoefen het wat om te doen. Dit wil sê die korrekte planne was reeds só in ons onderbewuste vasgelê dat die brein dit maklik kon oproep.

Dit is dus van deurslaggewende belang dat 'n mens voor die tyd 'n plan vir elke moontlike situasie moet hê. In my boek bespreek ek ál die plekke waar 'n mens aangeval kan word, asook die optredes waardeur die aanvallers hulle voor die tyd sigbaar maak en dit waarvoor hulle bang is. Belangriker nog is die gevallestudies van slagoffers wat ongeskonde daarvan afgekom het en die planne wat vir hulle gewerk het.

Om vooraf planne reg te hê, is die enigste manier om weer kalm te word te midde van doodsgevaar en om die verdere verloop van die aanval in jou guns te bestuur. Die vraag is egter watter planne werk. Wat ons wel weet, is dat "tee" nie werk nie. Uit my navorsing blyk dit dat daar etlike geheime is. Dit is die volgende:

  Besef dat dit nie net met ander mense gebeur nie. Maak vooraf planne oor wat jy alles kan doen wanneer jy aangeval word. Met planne word bedoel geweldlose planne. Geweld teenoor aanvallers kan jou jou lewe kos. Dieselfde geld kruiperigheid en aggressiewe en beledigende taal (lees die vorige artikels in die reeks).

 Ontwikkel planne wat die aanvallers se sterk punte in swak punte omskakel en hulle só onkant betrap dat hulle oorbluf is en die aftog blaas.

  Dink herhaaldelik aan die planne sodat jou brein dit behoorlik vaslê en onmiddellik kan oproep as jy aangeval word.

Die volgende voorbeeld is 'n bejaarde vrou wat vooraf deeglik beplan het wat om te doen. Daar is in my boek talle soortgelyke gevalle wat meer spesifiek betrekking het op plaasaanvalle. Ek gebruik egter spesifiek hierdie geval om aan te dui dat 'n mens nie gekortwiek hoef te word net omdat jy fisiek weerloos is nie.

'n Bejaarde vrou (74) wat krom getrek was deur artritis en haarself allermins kon verdedig, is een dag deur vyf aanvallers in haar kombuis oorval. Hulle wou geld hê. Sy is toe na die kluis waar sy R400 uitgehaal het. Daar was egter 'n probleem. Elke aanvaller wou R100 hê. Die geld was dus te min vir hulle almal. Hulle besluit toe om haar vir die balans te verkrag. Hulle het haar kaal uitgetrek, toue uit die lakens gemaak en haar op die bed oopgespalk.

Toe ek haar twee jaar vroeër, in 1998, gevra het wat sy sou doen as vyf aanvallers haar aanval, het sy gesê dat sy haarself ná die verkragting sou skiet omdat sy nie die vernedering sou kon hanteer nie. Ek het toe alternatiewe planne met haar bespreek omdat ek geweet het iemand met haar graad van artritis sou nie 'n pistool gespan kry nie.

Toe sy kaal op die bed vas was en die aanvallers begin het om hul broeke uit te trek, het sy die ontlontingstegnieke wat ek haar geleer het, ingespan. Die volle besonderhede van die plan kan nie hier vertel word nie omdat misdadigers dit onder oë kan kry. Die uiteinde van die storie was dat die aanvallers die kamerdeur oopgeskop het om uit die kamer te kom - hulle was bang die vrou kom los en verkrag hulle.



Kennis kan lewe red


Boere en hul gesinne word dikwels tydens aanvalle vermoor of ernstig beseer omdat hulle nie weet hoe die tipiese plaasaanvaller optree en wat hulle moet doen of nie moet doen nie om te keer dat hulle vermoor of beseer word.

In hierdie aflewering in Landbouweekblad se reeks oor plaasveiligheid gee mnr. Lukas Swart, 'n kenner van plaasveiligheid, raad oor hoe iemand moet optree as hy of sy op 'n plaas aangeval word.

Die eerste vier artikels in die reeks het gehandel oor die impak van plaasaanvalle op die land se ekonomie, die rol van die Regering en verkiesingsintimidasie in die voorkoms van plaasaanvalle en hoe die media kan help om plaasaanvalle te voorkom; hoe bendes en opponerende groepe, soos Pagad, daarin slaag om gemeenskappe en selfs statutêre magte te intimideer; die misdaadelement wat vir plaasaanvalle verantwoordelik is en waarom hulle tot aanvalle oorgaan; en die tipiese profiel van die plaasaanvaller en die slagoffers.

Die volgende twee artikels gaan oor die Afrika-tekentaal - wie dit gebruik en hoe dit in misdaad ingespan word.



Wat gebeur voor die tyd?


Plaasaanvallers word vooraf deeglik opgelei in spesiale misdaadskole waar hulle onder meer geleer word om eers die boer en sy gesin se gewoontes deeglik te bestudeer. Op grond van hierdie voorafverkenning word 'n plan van aksie uitgewerk.

Diegene wat die aanval beplan (gewoonlik plaaswerkers met skuld) doen gewoonlik die voorafverkenning en kry daarna 'n ander span van buite af om die aanval namens hulle uit te voer. In ruil daarvoor kry die moordbende ("hit squad") 'n deel van die buit.

Wanneer die verkenners seker is van die boer se gewoontes lig hulle die moordbende daaromtrent in en gee roete-aanwysings aan hulle. Hiervoor span hulle die Afrika-tekentaal in. Voorwerpe soos klippe, stokke en sakke word uitgepak sodat die bende kan sien hoe om by die opstal uit te kom en watter aksie (roof, verkragting of moord) gepleeg moet word.

Tydens die aanval gebruik die moordbende sielkundige oorlogvoeringstegnieke om die boer en sy gesin só te ontsenu dat hulle hulle nie teësit nie.

In die boek Oorwin Plaasaanvalle is volledige inligting oor hoe boere maklik kan agterkom wanneer verkenners besig is om 'n aanval te beplan en oor hoe om dit só te ontlont dat die aanval afgelas word. Die Afrika-tekentaal word ook op spesiale seminare behandel.