Landbou.com SAWeb
Plaasaanvalle (4):
Kennis kan lewe red
LUKAS SWART (lucas@grschat.net)

Kennis van hoe 'n plaasaanvaller kan reageer, kan die verskil tussen lewe en dood beteken. Iemand wat aangeval word, moet nie vrees wys of kruiperig teenoor die aanvallers optree nie. Maar net só moet aggressie vermy word.

Die emosionele onstabiliteit van baie plaasaanvallers (te wyte aan die "struggle"-agtergrond waarin hulle grootgeword het) en dwelmgebruik is van die kernredes van plaasaanvalle. Om plaasaanvalle suksesvol te bestry of om nie beseer te word tydens aanvalle nie, is dit belangrik om kennis te dra van met wie en wat 'n mens te doen het en hoe om korrek op te tree teenoor aanvallers.

As jy aangeval word, moet jy nie aggressief teenoor die aanvallers wees nie, nie hul tyd mors nie en nie te veel oogkontak met hulle maak nie. Beledigende taal en 'n kruiperige houding moet ook vermy word.

Dit blyk uit die volgende voorbeelde van werklike voorvalle wat plaasgevind het. Vir elkeen van die gevalle wat hier bespreek word, is daar tientalle ander wat nie bespreek kan word nie omdat die plek te min is.

Weermagnavorsing (berig op bl. 27) het bevind dat oogkontak, aggressie en beledigende taal teenoor die aanvallers geweld aanmoedig en dat daar vandag 'n generasie mense in Suid-Afrika leef wat dit normaal vind om te moor wanneer hulle kwaad word.

Dit is egter belangrik om te noem dat nie alle jong mense deel uitmaak van hierdie "struggle"-kultuur nie. Baie van dié wat egter daaraan deel gehad het of in sulke ouerhuise grootgeword het, is na bewering meer geneig tot dinge soos misdaad, wreedheid en emosionele onstabiliteit.

Dit is dus van lewensbelang om tydens 'n plaasaanval te onthou dat enige mens wat hierdie geslag aanvaller se aggressie ontlok, met 'n geweldsfaktor te doen gaan kry wat die aanvaller dalk self nie eens beplan het nie. Die eerste twee gevalle gee aan die leser 'n goeie idee van wat hiermee bedoel word.

Twee Noord-Kaapse broers uit 'n "struggle"-agtergrond het saam 'n Okapi-knipmes besit. Op 'n dag het hulle geld geleen, 'n boks wyn gekoop en dit gedrink terwyl hulle die mes om die beurt geslyp het. Toe die wyn begin "werk", het 'n argument ontstaan. Die broer met die mes in sy hand het die ander een daar en dan doodgesteek.

Hoewel drank sekerlik ook 'n rol gespeel het, vermoor min dronk mense 'n broer sommer net so. Wat waarskynlik hier gebeur het, is dat hulle nie opgevoed was om hul aggressie te bestuur nie. Hulle het gereageer volgens hul "struggle"-opvoeding, naamlik: Gebruik die maksimum geweld.

Die tweede geval was in 'n woongebied aan die Oos-Rand. 'n Patrollie van die weermag is deur iemand met klippe bestook, waarna die klipgooier na die kampong van 'n bepaalde faksie gevlug het. Die leier van die patrollie het 'n lid van die kampong gestuur om die klipgooier te konfronteer en vas te stel of hy wel 'n lid van hul faksie was. Die uiteinde was dat die klipgooier deur die kampong-inwoners aangerand, verkrag en wreed vermoor is.

Toe die faksielid wat ingestuur is, terugrapporteer, wou die patrollieleier weet of dit werklik nodig was om die man só wreed te vermoor. Die lid se antwoord was: "Ek weet nie wat gebeur het nie. Die vrees in die man het ons 'n geweldige gevoel van mag gegee. Ons kon onsself self nie keer nie. Hoe meer die man geskreeu het, hoe sterker het ons gevoel. Noudat alles verby is, kan onsself nie glo wat ons aangevang het nie."

Wat 'n mens hieruit kan leer, is dat dit 'n fatale fout is om vrees te toon, om genade te smeek of kruiperig teenoor aanvallers op te tree. Die oomblik wat die aanvaller vrees by sy slagoffer bespeur, gee dit hom 'n gevoel van mag wat hy nie kan hanteer nie. Daar is talle voorbeelde van plaasaanvalle wat bewys dat kruiperigheid nie werk nie. Neem eerder vreesloos leiding, maar sonder om aggressief oor te kom.

Die volgende geval gee 'n aanduiding van wat gebeur wanneer mense hulle in situasies bevind waar hulle emosioneel opgesweep word. Voeg dit saam met die "struggle"-kultuur waarin baie van die aanvallers grootgeword het, en jy sit met wreedheid waarin 'n mens jou nie kan indink nie.

Die insident het in die Oos-Kaap plaasgevind. Duisende opgesweepte lede van 'n politieke party was besig met 'n optog. Een van die mense na aan die voorpunt van die geweldige groot groep mense se voet het vasgehaak en hy het geval. Hy is toe eenvoudig deur die massa — sy eie mense — doodgetrap.

Diere? Nie noodwendig nie. Soortgelyke optrede word aangetref onder die Engelse sokkergeesdriftiges. As voorsorgmaatreël moet besighede in groot dele van Londen op sokkerdae gesluit word. Dit is selfs op sokkerdae onwettig om in Londen met 'n T-hemp met jou sokkerklub se naam op, op 'n trein te klim of by 'n kroeg in te stap. Dit kan tot gewelddadige gevegte tussen die ondersteuners van verskillende sokkerspanne en ernstige saakbeskadiging lei. Niemand waag dit op straat ná wedstryde nie. Die opgesweepte toeskouers skroom nie om enigeen in hul pad te vermoor en die stad te verwoes nie.

Wat 'n mens hieruit kan leer, is dat aanvallers reeds voor die aanval emosioneel opgesweep is. Hou ook in gedagte dat dwelmgebruik voor aanvalle nie uitsonderlik is nie. Sulke mense rook dikwels dagga (gemeng met Mandrax-pille) om meer moed te kry. Wanneer hulle op 'n plaas opdaag, is hulle reeds só onstabiel en bedwelm dat hulle irrasioneel optree. Die geringste fout aan jou kant kan hulle totale beheer laat verloor. Dit is dus uiters belangrik om kalm te bly.

Tydens 'n plaasaanval is dit belangrik om nie beledigend of snedig teenoor aanvallers op te tree nie. 'n Aggressiewe stemtoon en beledigende taal krap hulle verder om. Hulle verloor dan heeltemal beheer en is tot enigiets in staat. Moet ook nie aanvallers se tyd verspil nie Die aanvaller is angstig om die aanval af te handel sodat hy kan wegkom. Mors jy sy tyd, kan jy ongekende aggressie ontketen.

Toe aanvallers 'n boer en sy vrou se slaapkamer laat een aand binnestap, het die man vinnig sy bandmasjien aangeskakel. Hierop kon later duidelik gehoor word hoe die vrou op die aanvallers vloek en skree. Van tyd tot tyd kon 'n mens die aanvallers hoor sê: "Hou net jou bek. Ons wil die kluis se sleutels hê." Volgens die band-opname het die man die aanvallers probeer aanval. Hy is platgeskiet. Sy vrou is daarna verkrag en ook vermoor.

Oogkontak om aanvallers te probeer ontsenu of om hulle te identifiseer, kan ook jou dood beteken. Die aanvaller is nie lus om gevang en in die tronk gestop te word nie. Dit is makliker om jou dood te maak.

In 'n voorval in die omgewing van Barkly-Oos is 'n boer volgens latere getuienis vermoor omdat hy een van sy aanvallers se klapmus van sy kop afgetrek het en hom herken het as sy voorman se seun. Die aanvallers se hoofmotief was nie om die boer te vermoor nie. Hulle wou hom net beroof en was na bewering heel beskaaf teenoor die boer totdat hy die klapmus afgeruk het. Toe is hy op die plek doodgeskiet.

  • Navrae: E-pos: lucas@grschat.net of web-werf: www.gprschat.net; sel 082 493 9759.

    Tipiese aanvaller, prooi is herkenbaar
    Boere en hul gesinne word dikwels tydens aanvalle vermoor of ernstig beseer omdat hulle nie weet hoe die tipiese plaasaanvaller optree en wat hulle moet doen (of nie moet doen nie) om te keer dat hulle vermoor of beseer word.

    In hierdie aflewering oor plaasaanvalle in die reeks oor plaasveiligheid bespreek mnr. Lukas Swart, 'n kenner van plaasveiligheid, die tipiese profiel van die plaasaanvaller, sowel as dié van die slagoffers.

    Die eerste drie artikels in die reeks het gehandel oor die impak van plaasaanvalle op die land se ekonomie, die rol van die Regering en verkiesingsintimidasie in die voorkoms van plaasaanvalle en hoe die nuusmedia kan help om plaasaanvalle te voorkom, hoe bendes en mededingende groepe, soos Pagad, daarin slaag om gemeenskappe en selfs statutêre magte te intimideer, en die misdaadelement wat vir plaasaanvalle verantwoordelik is en waarom aanvalle geloods word.

    Die volgende artikels handel oor hoe jy in 'n aanval moet optree en, laastens, oor die Afrika-seintaal — wie gebruik dit en hoe word dit in misdaad ingespan?

    Hoekom wit boere?
    My eie navorsing het resultate gelewer wat in ooreenstemming is met dié van die weermag en die Instituut vir Sekerheidstudies. Die SA Nasionale Weermag het, soos ek ook, vasgestel dat wit boere tydens plaasaanvalle slegter daaraan toe is as swartes. Ook dat dit nie net wit boere is wat aangeval word nie, maar ook swart boere en plaaswerkers van alle rasse.

    Die SANW se navorsing het aan die lig gebring dat die stasistieke baie na aan mekaar is sover dit beserings tydens aanvalle aanbetref. Maar sover dit moorde aangaan, kom wit boere die slegste daarvan af.

    Die Instituut vir Sekuriteitstudies, wat ook opdrag gekry het om die saak te ondersoek, se navorsing oor die redes hiervoor is in ooreenstemming met my eie bevindings in die praktyk. Die ISS het bevind dat aggressie teenoor die plaasaanvaller, die mors van die aanvallers se tyd, te veel oogkontak met die aanvaller en beledigende taal teenoor aanvallers boere se dood kan beteken.

    Kol. Barry Schoeman van die SANW se navorsing het egter met ander interessante feite vorendag gekom oor die kernrede vir die hoë vlakke van geweld in Suid-Afrika. Hy het bevind dat 'n persentasie van die geslag van vandag en hul manier van optrede en dink, deur die destydse "struggle" gekweek en aangevuur is. Om sake te vererger, word die "struggle-kultuur" aan die nageslag oorgedra.

    Suid-Afrika se buurlande het tydens hulle eie vryheid-"struggles" uit die aangrensende lande (waarheen hul "vegters" gevlug het) baklei en nie van binne-af, soos in Suid Afrika die geval was nie.

    Die Suid-Afrikaanse rebelle het ook 'n ander metode gebruik. Hulle het grootliks op kinders gesteun om gevegte met die gesagsinstansies in die land aan te knoop. Die geweldsklimaat waarin hulle grootgeword het, is selfs erger as wat ek as soldaat in die spesiale brigade in Angola beleef het.

    Die "struggle"-kinders is van jongs af geleer om burgerlik ongehoorsaam te wees en om teen alle gesag te rebelleer. Omdat hulle ook van kleins af gesien het hoe mense gebrand, geskiet, gesteek, vermink, verkrag en vermoor word, was geweld nie vir hulle snaaks nie.

    Die kernprobleem is egter dat hierdie mense mettertyd dieselfde gedragspatroon aan hul nageslag oorgedra het. Dit is waarskynlik so dat ouers wat self nooit geleer het wat reg en verkeerd is nie, hul kinders nie reg kan opvoed nie.

    6 Mei 2005