Landbou.com SAWeb
Plaasaanvalle (3)
Wie is aanvallers en waarom?
Deur LUKAS SWART

Boere kan baie doen om plaasaanvalle te voorkom of, indien dit wél plaasvind, te oorleef. 'n Kenner verduidelik waarop 'n mens bedag moet wees.

Plaasaanvalle, asook die soort geweld en vlakke van geweld tydens plaasaanvalle, is nie eie aan Suid-Afrika nie. Plaasaanvalle is deel van doodgewone geweldsmisdade, waaronder moord, roof, voertuigkapings, transitorooftogte, verkragtings, huisbraak en aanranding met die doel om ernstig te beseer, ressorteer.

Dieselfde soort geweld en vlak van geweld word tydens rooftogte in stede en dorpe gebruik. Diegene wat daarvoor verantwoordelik is, het ook nie - anders as wat dikwels vermoed word - soseer 'n politieke agenda nie. Dit is veel eerder plaaswerkers wat 'n alternatiewe metode oorweeg om geld te bekom wanneer hulle nie hul skuld uit hul eie inkomste kan betaal nie. Dit is gewoonlik daggaskuld, maar ek weet ook van 'n plaasaanval wat beplan is om skuld van R4 000 by 'n meubelwinkel te betaal.

Die werker vind dit ook nie snaaks om die boer se vee, diesel, batterye, voer en saad te steel, of om selfs aanvalle op die huis en gesin te organiseer om geld in die hande te kry nie.

"Steel" beteken eenvoudig nie dieselfde vir verskillende kulture nie. Wat deur sommige mense as steel beskou word, word nie noodwendig deur ander mense só verstaan nie. Hulle glo eerder dat almal as een groep mense op die aarde geplaas is en dat alles aan almal behoort. Hulle glo ook dikwels dat diegene wat nie het nie, vryelik kan gaan vat by dié wat wél het.

Die vraag is hoe om dit te voorkom. Die belangrikste is om die nodige kennis te bekom oor hoe om sulke diefstalle en beoogde aanvalle vroegtydig te identifiseer. Dit is ook belangrik om te weet watter strategieë aangewend kan word om só 'n aanval vroegtydig te stuit voordat dit in 'n grusame gebeurtenis ontaard wat vir die res van 'n mens se lewe by jou sal spook.

My boek, Oorwin Plaasaanvalle, saam met die kennis van die geheime Afrika-tekentaal wat ek deur middel van kursusse oordra, is spesiaal hiervoor bedoel.

As die kennis van die tekentaal en die boek gesamentlik aangewend word, kan plaasaanvalle ten volle voorkom word.

Indien net die kennis van die Afrika-tekentaal alleen aangeleer en ingespan word, is 'n mens se kans om 'n aanval te voorkom sowat 40 % en meer. As net die boekkennis ingespan word, kan 'n mens plaasaanvalle in meer as 90 % van die gevalle voorkom.

Syfers dui daarop dat diegene wat net oor die boek se kennis beskik en wél aangeval is (omdat hulle nie die Afrika-tekentaal kon lees nie) in ál die aanvalle lewensverlies of verkragtings voorkom het. Kennis van die Afrika-tekentaal is 'n byvoordeel, in dié sin dat diegene wat dit vooraf kan lees, glad nie aangeval word nie.

Van Januarie tot April vanjaar is twee mense aangeval wat net kennis van die Afrika-tekentaal ingespan het om hulleself te beveilig. Hulle is nie beseer nie, maar dit kon voorkom gewees het indien hulle ook die inligting in die boek aangewend het.

Nóg 'n belangrike punt is om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te ondersteun (soos verlede week bespreek is).

Ek weet van 'n boer wat die SAPD in sy dorp die heeltyd veroordeel het omdat hy rot en kaal besteel is deur 'n skaapdief, aangesien die polisie nie die dief kon vang nie.

'n Paar weke later is die boer se plaasbestuurder op heterdaad betrap met meer as 10 gesteelde skape. Toe die boer egter gevra is om 'n klag te lê, het hy geweier omdat hy bang was dat die werker uit wraak teen hom en sy gesin sou optree.

Hierdeur het die boer niks bereik nie. Hy moes liewer die dief aan die kaak gestel en hom só uit die omgewing verwyder het.

Navrae: E-pos: lucas@gprschat.net; web-werf: www.gprschat.net; sel 082 493 9759.

Politiek is nie motief
Kol. Barry Schoeman van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se afdeling gesamentlike operasies het in opdrag van die SANW navorsing gedoen oor die moontlikheid van 'n politieke motief by plaasaanvalle. Sy navorsing het egter die vermoede dat wit mense die enigste slagoffers van geweldsmisdade is en dat net swart mense vir plaasaanvalle verantwoordelik is, die nek ingeslaan.

Hy het onder meer bevind dat wit mense in die algemeen nie naastenby soveel onder geweldsmisdade deurloop as swart mense nie. Wit mense (wat ongeveer 11 % van die totale bevolking van Suid-Afrika uitmaak) beleef saam met Kleurlinge en Indiërs net sowat 3 % tot 4 % van ál die geweldsmisdade in die land.

Swart mense, daarenteen, loop die meeste deur - soveel as 96 % van alle voorvalle van geweldsmisdaad word op hulle gerig. Schoeman het verder bevind dat hoewel die meeste aangemelde plaasaanvalle deur swart mense gepleeg word (88,5 %), gevolg deur Kleurlinge (7 %) en Indiërs (3 %), blankes se betrokkenheid by plaasaanvalle nie uitgesluit kan word nie. Altesame 1,5 % van diegene wat by alle plaasaanvalle betrokke was, was wit mense.

Schoeman het ook aan die hand van 'n wetenskaplike model bevind dat plaasaanvalle nie polities gemotiveer word nie.

Om onomwonde te kon bewys dat die een of ander politieke organisasie - direk of indirek - polities daardeur bevoordeel kon word en te verhinder dat blindelingse aantygings gemaak word, het hy die volgende maatstaf gebruik om die neiging te meet: Daar is besluit dat 'n plaasaanval moontlik as "polities" geïnspireer beskou kan word as die aanval op 'n plaas met grondeise daarop te make het; waar inwoners vermoor word sonder dat iets gesteel word; en indien bewys kon word dat die een of ander politieke party regstreeks of onregstreeks daaruit voordeel kon trek, soos wat die geval in Zimbabwe is.

Schoeman het in 1999 bekend gemaak dat grondeise slegs by 2 % van die aanvalle ter sprake is. Die politieke element is dus so onmeetbaar klein dat dit vanselfsprekend onsinnig sou wees om te beweer dat politiek 'n rol gespeel het.

Nadat pres. Robert Mugabe egter met sy aanslag teen boere in Zimbabwe begin het, het die grondeisefaktor in plaasaanvalle hier in Suid-Afrika gedurende 2001 die 3,5 %-kerf verbygesteek en amper in die omgewing van 7 % gaan draai. Teen die einde van 2002 het die neigings gelukkig weer begin terugswaai tot in die omgewing van 3 % tot 4 %.

Mense wat verantwoordelik was vir die stygende neigings hier in Suid-Afrika was eerder opportuniste wat die menigte vir hul eie selfsugtige agendas gemobiliseer het. Daar is ondersoek ingestel na ál die opstokers en dit is bewys dat hulle aan geen spesifieke politieke party behoort het nie.

Bloot misdaad
Die moontlikheid dat plaasaanvalle in die toekoms 'n politieke speelbal kan word, kan nie uitgesluit word nie. Op die oomblik is die politieke element amper onmeetbaar klein. Meer as 99 % van alle plaasaanvalle is nie polities gemotiveerd nie. Die oorgrote meerderheid (sowat 78 %) is bloot misdadig van aard en dikwels geïnisieer deur plaaswerkers wat nie hul skuld kan betaal nie.

Anders as wat dikwels geglo word, word wit mense ook nie meer aangeval as swartes nie en is swart mense nie die enigste mense wat verantwoordelik is vir plaasaanvalle nie.

In hierdie derde artikel in Landbouweekblad se reeks oor plaasveiligheid, bespreek Lukas Swart, 'n kenner op die gebied van plaasveiligheid, dié sake en kyk hy ook na die misdadigers wat vir plaasaanvalle verantwoordelik is en waarom hulle tot aanvalle oorgaan.

Die eerste twee artikels in die reeks het gehandel oor die impak van plaasaanvalle op die land se ekonomie, die rol van die Regering en verkiesingsintimidasie in die vorm van plaasaanvalle, en hoe die media kan help om plaasaanvalle te voorkom. Daar is ook gekyk na hoe bendes en opponerende groepe soos Pagad, (People against Gansterism and Drugs) daarin slaag om gemeenskappe en selfs statutêre magte te intimideer.

Die volgende artikels handel oor die profiel van plaasaanvallers en slagoffers; hoe 'n mens tydens 'n aanval moet optree, en laastens die Afrika-tekentaal: Wie gebruik dit en hoe word dit vir misdaad ingespan.

22 April 2005