Landbou
Plaasaanvalle (2):
Moenie reg in eie hande neem
LUKAS SWART

Individue en gemeenskappe kan 'n groot verskil teen misdaad en geweld maak as hulle, benewens hul eie voorkomende optrede, ook 'n inligtings-ondersteuningsbasis tot die polisie se beskikking stel.

Gemeenskapsoorloë impliseer dat opponerende gemeenskappe hulself in vyandige groepe teenoor mekaar begin organiseer en die reg in eie hande neem. Dit het dan 'n oorlog tot gevolg.

Bendevorming en gemeenskapsoorloë kom wêreldwyd (ook in Suid-Afrika met sy Wes-Kaapse bendes) al hoe meer voor om konflik op te los. Daarmee saam raak die invloed van die nasionale statutêre magte (soos die polisie en die weermag) al hoe kleiner. Dikwels tot verleentheid van dié magte.

Bendes se invloed is besonder groot. Vyf Kaapse bendes alleen het elk 'n ledetal van meer as honderdduisend mense. Die American-bende se ledetal is ongeveer 500 000. Die 25-, 28-bende en die Hard Living-bende het 'n ledetal van ver oor die honderdduisend.

Hierdie bendes het in die land se agtergeblewe gebiede ontstaan, waar hulle — soos ander inwoners van hul omgewings — aan armoede en werkloosheid onderworpe was. Hulle het begin dwelms smokkel en versprei om geld te kry. Bendes het later sekere gebiede vir hulself begin opeis waar hulle hul stempel met geweld en intimidasie op inwoners afdwing. Inwoners in bendegebiede word as "onderdane" en as bende-eiendom beskou.

Sommige bendes weerspieël selfs 'n vreemde verantwoordelikheidsin teenoor hul "onderdane". Daar is byvoorbeeld Kaapse bendeleiers en bendelede wat daagliks kospakkies aflewer vir honger en werklose mense in hul gebiede. Teen 'n prys natuurlik: Bendelede beskou dit dan byvoorbeeld as hul reg om jong meisies in hul gebiede te verkrag.

Sommige bendes se invloed is só groot dat hulle selfs daarin slaag om regters, polisiemanne en selfs ministers (deur middel van korrupsie of intimidasie) in hul mag te kry en om hulle dan onregstreeks deel van hul bendes te maak. In ruil daarvoor onderneem die bende om die betrokke polisielede, regters, ministers en hul gesinne teen die aanslae van ander bendes te beskerm.

Uit vrees vir hulle en hul gesinne se veiligheid kan sulke amptenare in sleutelposisies dan toegee. In ruil vir "beskerming" verwag bendes om vroegtydig ingelig te word oor polisiebedrywighede in hul gebied of dat die Regering hulle nie sal teë-gaan wanneer hulle die reg in eie hande neem nie.

Bendes misbruik graag die polisie (en regeringsmagte). Hulle gee dikwels voor dat hulle saam met die polisie werk deur inligting oor ander bendes aan die polisielede in hul eie gebied te voorsien. Maar hulle gebruik eintlik die polisie om namens hulle die opponerende bendegroepe uit te skakel en om hul werk in die wiele te ry.

Dié bende se eie "goeie verhouding" met die polisie is dan 'n waarborg dat die polisie sy oë sal sluit wanneer hulle met een of ander onwettige bedrywigheid besig is.

Hiemee word geensins geïmpliseer dat alle polisiemanne (of regeringslede) in die Kaap hulle deur bendes laat intimideer nie. Eerder dat staatsamptenare met integriteit só 'n groot probleem vir bendes skep dat hulle en hul huismense gemerkte mense is. Nuusberigte waarin aangekondig word dat 'n polisieman of sy gesin deur 'n bende vermoor is, is alom bekend.

Bende-gemeenskapsoorloë is die resultaat van bendes wat só groot geword het, dat hulle hele gemeenskappe beheer en hulle by bende-oorloë betrek; dikwels tot nadeel van onskuldige vroue en kinders wat in die kruisvuur sterf.

Die veiligheidsmagte se invloed word beperk omdat polisiemanne, soldate en regters wat in 'n bepaalde gebied bly en deur die bende geïntimidieer is om deur hulle beskerm te word, dikwels verplig voel om hul gebiede se bendelede te beskerm.

Die tweede soort gemeenskapsoorlog is dié wat deur 'n ander soort "bende" gevoer word — wetsgehoorsame burgers wat standpunt wil inneem teen wetteloosheid. Ongelukkig maak hulle hulself dikwels ook aan wetteloosheid skuldig. In Suid-Afrika is Pagad ("People Against Gangsterism and Drugs") se oorlog van enkele jare gelede teen dwelms en bendes in die Kaapse Skiereiland waarskynlik die beste voorbeeld.

Hiertydens is hele gemeenskappe — dikwels teen hul sin — betrek en die statutêre magte, soos die weermag en polisie, se hande was afgekap omdat hulle nie voluit betrek kon of wou word nie.

Let wel, wanneer hier na Pagad se optrede verwys word, word die Moslem-godsdiens nie geïmpliseer nie. Ál wat uitgelig word, is die foute wat Pagad as organisasie gemaak het, die redes waarom hulle met die gereg gebots het, hoe 'n soortgelyke probleem ook die res van die land bedreig en hoe uit die foute van Pagad geleer kan word (berig hiernaas).

Pagad se aanvanklike motief was eerbaar, maar hy het die kwessie verkeerd aangepak. Hy het die reg in eie hande geneem en was gou in die moeilikheid. Waarskynlik omdat sommige polisiemanne en selfs ministers wat in bendegebiede gewoon het, volgens Pagad nie te vertrou was nie.

Pagad het dit as sy morele plig beskou om teen die bende-beheerde element van die gereg en owerheid in opstand te kom. Dit het vanselfsprekend misluk. Pleks dat die Regering openlik saam met Pagad standpunt ingeneem het teen dwelms en bendes (soos Pagad waarskynlik gehoop het), het hy openlik standpunt ingeneem teen diegene "wat die reg in eie hande wou neem."

Aan die een kant is dit te verstane. Die Regering kan nie toelaat dat 'n gemeenskapsorganisasie namens, of in die plek van, die statutêre magte van die staat optree nie.

Pagad het gemeen die Regering skaar hom aan die kant van die bendes en het selfs meer opstandig geword. In sy eie gemeenskappe se oë was hy egter 'n held. Dit het uiteindelik 'n radikale splintergroep van ongeveer sewentien lede binne Pagad tot gevolg gehad. Dié groep het radikales in die Ooste se hulp ingeroep in sy stryd teen die Suid-Afrikaanse Regering. Hulle het meer as 150 bomme in die Skiereiland laat ontplof voordat hulle aangekeer is. In dié proses is 'n gemeenskap gekweek wat bereid is om die reg in eie hande te neem en wat sy eie belange ten koste van dié van ander gemeenskappe bevorder.

Wat veral kommerwekkend is, is dat die professionele bendes (soos die Wes-Kaapse bendes en ander professionele misdaadbendes, soos die Zamagaza) tans besig is om na die binneland uit te brei.

Bendebedrywighede het — om maar enkeles te noem — al versprei van Hermanus af tot Port Elizabeth, Carnarvon, Victoria-Wes, Worcester, Calvinia, Loxton en Williston. Ander nie-professionele bendes, soos die Pomabaza-bendes (inisiasieskoolopleiding), word betrek. Pomabaza, wat ook deur Wes-Kaapse bendes as held vereer word en wie se reëls slaafs nagevolg word, het 'n belangrike invloed op die beplanning en uitvoer van plaasaanvalle en sal in latere artikels bespreek word.

Die vraag ontstaan hoe lank die Suid-Afrikaanse Regering nog die vermoë gaan hê om bendes so groot soos 500 000 lede te beheer, veral in die lig van sy krimpende polisie- en soldatemagte, geld en vol tronke.

  • Navrae: E-pos lukas@gprschat.net, webwerf www.gprschat.net.

    Steun jy polisie genoeg?
    'nMens kan heelwat leer uit die strategieë van bendes, hul intimidasie van statutêre magte, die mislukte pogings van teen-groepe, soos Pagad, die gebrek aan genoeg finansiering en mannekrag in die polisie- en weermaggeledere en die bendebedreiging wat nou na landelike gebiede uitkring.

    Wat 'n mens eerstens moet besef, is dat dit nie meer net uitsluitlik die veiligheidsmagte, die polisie en die weermag, se taak is om 'n buffer teen die bedreiging te wees nie. Faktore, soos die land se sosiaal-ekonomiese geskiedenis, die kultuur van geweld, die vordering van gemeenskapsoorloë, die tekort aan polisie- en weermaglede en die intimidasie van bendes, kortwiek hul pogings al hoe meer.

    Die statutêre magte alleen kan eenvoudig nie meer alleen die bedreiging beveg nie. Hulle het die hulp van die gemeenskap nodig. Dit wil sê 'n sterk ondersteuningsgrondslag in die vorm van aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid om die bedreiging suksesvol die hoof te bied.

    Individue en gemeenskappe kan 'n groot verskil maak as hulle verantwoordelikheid aanvaar en self 'n buffer tussen die mense en die bedreiging skep en vestig. Dit beteken nie dat gemeenskappe die reg in eie hande moet neem nie. Eerder dat mense, benewens hul eie voorkomende optrede, ook 'n inligtings-ondersteuningsgrondslag tot die polisie se beskikking moet stel.

    Word byvoorbeeld deel van landelike beveiligingstrukture, soos plaaswagte, of ander landboustrukture. Plaaswagte en kommando's se sukseskoers met betrekking tot die aankeer van plaasaanvallers is al bewys. Tot 75 % van alle plaasaanvallers word binne die eerste ses uur ná die aanval deur die landelike beveiligingstrukture en vanweë gemeenskapsbetrokkenheid by hierdie strukture aangekeer.

    Wat 'n mens ook moet besef, is dat dit nie help om die polisie 'n vyand te maak deur polisielede te vloek en skel en vinger te wys nie. Dit is wel só dat hulle soms te stadig op klagte reageer, maar daar is redes daarvoor. Dit is dalk omdat die publiek hulle nie genoeg ondersteun nie en verwag dat hulle alles moet doen, terwyl individue self nie 'n vinger wil lig nie.

    Iets wat die polisie ook in 'n baie ongemaklike posisie plaas, is die feit dat kriminele bendes landwyd besig is om vriende binne die polisie te soek en om soms vriendskappe aan die polisie op te dwing om daardeur hul eie belange te probeer bevorder. Hulle het immers polisiemanne geword omdat hulle misdaad wil beveg en nie om deur bendes geïntimideer te word nie.

    Polisiemanne wil deur die gemeenskap wat hulle dien, gerespekteer word en beskou word as mense wat reg en orde in die land kan handhaaf. Hoe meer die polisie geskel en gekritiseer word, hoe meer buit die misdadigers die situasie uit.

    Geweldsmisdaad gaan nie noodwendig binne die volgende tagtig jaar verbeter nie. Maar as die publiek betrokke raak, die nodige voorkomingsoptrede toepas en die vyand se strategieë ken en kan ontlont, is dit tog moontlik om "met oop deure en vensters te slaap."

    Verstaan hoe bendes werk
    Om plaasaanvalle suksesvol te kan voorkom, moet die toenemende wêreldwye neiging tot bendevorming en gemeenskapsoorlogvoering en die slegte invloed daarvan op nasionale statutêre magte verstaan word.

    Bendes is in der waarheid kleiner regerings (of polisiemagte) binne die groter bestel wat hul onderdane op verskeie wyses intimideer om te doen wat hulle wil hê hulle moet doen. Hulle behoort voortdurend gemonitor te word sodat die neigings van geweldsmisdade en potensiële oorloë wat al hoe meer na plattelandse gebiede uitkring, vroegtydig geïdentifiseer en met welslae bestuur kan word.

    Vandeesweek skryf Lukas Swart, 'n kenner van plaasveiligheid, in Landbouweekblad se reeks oor plaasveiligheid hoe bendes en mededingende groepe, soos Pagad, daarin slaag om gemeenskappe en selfs statutêre magte te intimideer. Hy verduidelik ook hoe dié neiging geslaag bestuur kan word as dit na landelike gebiede uitbrei.

    In die eerste artikel in die reeks het hy die impak van plaasaanvalle op die land se ekonomie verduidelik, die rol van die Regering en verkiesingsintimidasie in die voorkoms van plaasaanvalle asook hoe die media kan help om plaasaanvalle te voorkom.

    Die volgende artikels handel oor wie die aanvallers is en waarom hulle hul op plase toespits; hoe die profiel van plaasaanvallers en slagoffers lyk; hoe 'n mens tydens 'n aanval moet optree en, laastens, die Afrika-tekentaal — wie dit gebruik en hoe dit in misdaad benut word.

    8 Maart 2005