Landbou
Boesmans draf veediewe kis
CHRIS JOOSTE (cjooste@landbou.com)

Die Boesmans van twee San-stamme, die !Xun en Khwe, word nou landwyd met groot welslae op georganiseerde wyse ingespan as plaaswagte. Waar hulle 'n plaas patrolleer, verdwyn veediefstal heeltemal, sê boere wat van dié Boesmans in diens het.

Veeboere wat hul skaapkuddes tot niet gemaak het weens veediefstal, begin nou weer skape aanskaf. Ander boere wat Boesmans in diens het, is die enigstes in hul distrik wat nog met skape boer. Dit wys hoeveel welslae met die gebruik van Boesmans as wagte op plase behaal word.

Mnr. Gert Schoombie, 'n oud-offisier van die SA Weermag, sê die Boesmans van die !Xun- en Khwe-stam was deel van die SA Weermag se elite-eenhede in die grensoorlog in Suidwes en Angola. In 1990 is hulle deur die Suid-Afrikaanse Regering na Suid-Afrika gebring en op Schmidtsdrift in die Noord-Kaap hervestig. Ná onderhandelings vir beter huisvesting die afgelope jaar word die twee gemeenskappe nou na Platfontein naby Kimberley geskuif.

Schoombie is deur die twee gemeenskappe aangestel om hulle as werkmag te bemark en uit te plaas. Hy behartig die kontrak en is die kontakpersoon tussen die boere en die Boesmans. Hy was vroeër gemoeid met die opleiding van die Boesmans vir die SA Weermag.

Sy onderneming, die Bo-Karoo-personeeldienste in Kimberley, help die Boesmans, wat tradisioneel veldkenners is en hulself bewys het as uitstekende plaaswagte, om werk te kry.

Hy plaas die wagte as werkers vir die boer uit op 'n kontrak van drie of ses maande. Die boer gebruik dan die wagte volgens sy eie behoefte.

Hy sê die redes waarom die Boesmans sulke goeie plaaswagte is, is omdat hulle 'n natuurlike vermoë het om die veld te evalueer en dan voornemende veediewe op hul toegangsroetes voor te lê. Hulle kan observasieposte beman en die boer in kennis stel wanneer die vermeende veediewe opdaag.

Die Boesmans is gesoute spoorsnyers en kan, waar vee wegraak, help om die gesteelde skape op te spoor. Omdat hulle net hul eie taal en Afrikaans kan praat, word hulle nie in veediefstal-sindikate opgeneem nie.

Die !Xun en Khwe verkies meestal om op hul eie te bly en meng nie met die plaaslike bewoners nie.

Mnr. James Oertel van die plaas Boskop, Petrusburg, die enigste veeboer in die dorp se nabyheid wat nog met skape geboer het, sê hy het al oorweeg om sy medeboere se voorbeeld te volg en sy skaapkudde tot niet te maak. Hy het talle skape aan veediefstal verloor totdat hy in Augustus 2003 van die Boesmans in diens geneem het. Sedertdien is nie 'n enkele skaap op sy plaas gesteel nie. Die Boesmans se salaris is heelwat minder as die verlies wat hy weens diefstal sou gely het.

Die Boesmans op sy plaas doen elke oggend verslag oor alles wat in die nag op die plaas gebeur het. Dit, en die veiligheid wat hy nou by die huis ervaar, verseker dat hy nooit weer sonder dié mense op sy plaas sal wees nie. Die Boesmans en die ander werkers op die plaas verstaan mekaar nie en meng nie sosiaal nie.

Mnr. Sakkie Fourie van die plaas Pretoriuskop, ook van Petrusburg, sê hy het reeds sy skaapkudde tot niet gemaak en net met beeste geboer. 'n Skaapboerdery is egter winsgewender as beeste in sy omgewing en met die Boesmans se hulp het hy weer sy skaapboerdery aan die gang gesit. Hy brei dit nou uit.

'n Boesmanwerker bepaal sy eie program. Hy pas die skape op en maak hulle elke aand bymekaar. Die Boesman op sy plaas se vrou woon by hom en hulle meng nie met die ander werkers nie. Hy help die boer met die oppas van vee waarmee hy nie ander mense kan vertrou nie.

Skaap- en aartappeldiefstal het opgehou. Geen ongemagtigde mense loop meer oor die plaas nie en die Boesman-wag pas boonop die huis en werf op. Dit gee hom baie gemoedsrus, sê Fourie.

Die Boesman-werker kos hom die prys van twee dragtige ooie per maand, wat baie minder is as wat hy voorheen weens veediefstal verloor het.

Schoombie sê die boer moet self die Boesman-werker gaan haal en ná die kontraktydperk terugneem. Hy moet verblyf vir hom en sy gesin (waar van toepassing) verskaf, hom twee oorpakke en 'n paar geskikte veldskoene en 'n vasgestelde rantsoen per maand gee. As die Boesman minder as ses maande by die boer werk, bly die klere die boer se eiendom. Hy mag nie die werker aan enigiemand anders verhuur nie.

Die boer is self verantwoordelik vir beheer en toesig oor die werker en sy pligte. Omdat die !Xun en Khwe dikwels probleme met ander tale het, moet die boer sorg dat opdragte so verduidelik word dat misverstande nie ontstaan nie. Hy sê omdat die ouer Boesmans opgeleide soldate is, ken hulle vuurwapens. As die boer 'n Boesman-werker toelaat om 'n wapen te hanteer, is dit sy verantwoordelikheid om dit binne die wetlike vereistes te laat gebeur. Daarby moet dit in die werker se pligtestaat beskryf word as van hom verwag sal word om 'n vuurwapen te hanteer.

Boesmans kan in diens geneem word vir verskillende take, soos wildvang, algemene plaaswerk en werk in woon- en gastehuise. Hulle is opgelei as natuur- en spoorsnyersgidse, asook as trofeeslagters. Die vergoedingspakkette vir die verskillende take word in die tabel uiteengesit, saam met die bedrag wat aan die personeeldiens betaal moet word.

Vir meer inligting oor die Boesmans, kan lesers met Schoombie in verbinding tree. Sy foonnommers is 053 833 2955 (dit is ook sy faksnommer) en 083 306 8289. Sy e-posadres is schoombi@lantic.net

7 Mei 2004