Landbou
Gemeenskapspolisie druk stempel af
JOHAN FOUCHÉ (jfouche@landbou.com)

Dié gemeenskap wou misdaad voorkom deur deurlopende en sigbare polisiëring. Dit het tot 'n groot afname in misdaad in die dorpsgebied en in die omgewing gelei.

In 1997 het 'n groep sakemense van Stellenbosch bymekaargekom en die Stellenbosch-wag, 'n maatskappy sonder winsbejag, gestig. Met verloop van tyd het die wag soveel sukses behaal dat die hele dorp en die grootste deel van die landelike gebied om die dorp nou deel is daarvan.

Die wag se fokus is op misdaadvoorkoming eerder as reaksie op misdaad wat gepleeg is. Dit dien as 'n skakel tussen die gemeenskap, die polisie en ander belanghebbendes, soos die munisipaliteit, die georganiseerde landbou, die weermag en die sakegemeenskap. Verder is die verbetering van die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie een van die belangrikste doelwitte van die wag.

Die wag se belangrikste bedrywighede sluit in patrollies om misdaad te voorkom, die ondersoek van klagtes, die identifisering van verdagte mense en voertuie, en om ondersoek in te stel na alarms wat afgegaan het.

Mnr. Piet Venter, die voorsitter van die wag en eienaar van 'n hotel op die dorp, sê die stelsel het misdadigers in 'n groot mate uit die sakegebied gedryf, maar misdaad in die woonbuurte het daarna aanvanklik toegeneem. Die inwoners het dieselfde behoefte as die sakemense gehad en begin deelneem aan die wag.

Aanvanklik is openbare vergaderings in elke gebied gehou en vrywilligers geïdentifiseer om die inisiatief te neem en die woonbuurt se wag te bestuur. Nadat 60 % van die inwoners debietorders geteken het, is die diens binne twee tot drie weke ingestel.

Die wag vra 'n maandelikse bydrae van R65 van elke huisgesin in die dorp. Sowat 3 500 gesinne dra tans by.

Die hele dorp, insluitende woonbuurte in die laerinkomstegroep, soos Kayamandi, is nou in wyke opgedeel en is deel van die wag. Daar is deurlopend ses motorvoertuie, drie motorfietse en 'n paar fietse in gebruik in die dorpsgebiede.

Venter sê die wag het vanweë die hoë sigbaarheid daarvan tot 'n dramatiese afname in misdaad op die dorp gelei.

Soos wat die geval in die sakekern was, het die sukses van die wag in die dorp meegebring dat misdadigers weer groener weivelde gaan soek het. Plase het begin deurloop onder misdade soos veediefstal en gewapende roof.

Boere het toe die wag genader om te hoor hoe hulle kon deel word daarvan en die eerste plaaswyk het in 1999 aangesluit. Tans is daar vier plaaswyke, naamlik Klapmuts, Bottelary, R44/R304 en Devonvallei. Die wyke beslaan 70 % van die landelike gebied rondom die dorp.

Die voorsitter van Klapmuts-gemeenskapspolisiëring is mnr. Philip Myburgh, eienaar van die plaas Joostenberg. Die gebied waar hy woon, is naby die metropool en loop deur onder misdaad weens die hoë werkloosheidsyfer in die omliggende woongebiede.

'n Paar boere het enkele jare gelede 'n komitee onder die voorsitterskap van Myburgh gevorm om maniere te ondersoek waarop misdaad daadwerklik bestry kon word. Ná vier openbare vergaderings het die gemeenskap besluit om deel te word van die wag.

Die wyk val onder die beheer van die polisiekantoor Klapmuts en Myburgh sê 'n noue werkverhouding met dié kantoor bestaan. Hy sê die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie was waarskynlik nog nooit so gesond soos nou nie.

Myburgh sê die wag het tot 'n besliste afname in misdaad gelei, veral wat gewelddadige voorvalle betref. Diefstalle en inbrake het gedaal en gesteelde goedere, soos voertuie, word gereeld teruggevind. Die wag tree ook op teen onwettige drankverkope, wat volgens hom een van die grootste euwels in die gebied is.

Hy sê die stelsel werk beslis, maar dit is 'n deurlopende proses wat volgehoue toewyding verg. Die Bottelary-gebied het in Desember 2002 as wyk bygekom. Die algemeenste misdade in hierdie gebied is die diefstal van groente, druiwe, besproeiingstoerusting en vee (veral naby die Wallacedene-woongebied in die metropool), aanranding en huisbraak. In dié wyk is daar een voertuig in gebruik en deurlopend twee personeellede aan diens.

Mnr. Charl Esterhuizen, die voorsitter van Bottelary-gemeenskapspolisiëring, sê byna ál die boere in die omgewing ondersteun die wag. Sedert die wyk daarby aangesluit het, het die misdaadsituasie aansienlik verbeter, hoewel hy nie spesifieke statistieke kan verskaf nie. Hy sê die stadige reaksietyd van die polisie was een van die redes waarom boere wou deel word van die wag. Die polisie se diens is nou deur die wag versterk en hul reaksietyd het dramaties verbeter.

Die R44/R304-gebied tussen die dorp en die N1-hoofweg het ook in Desember 2002 by die wag aangesluit. Hier word hoofsaaklik wyn geproduseer en die diefstal van wyn en druiwe, sosiaal-maatskaplike misdrywe en huisbraak en roof is die misdade wat die grootste uitdagings bied. Met een voertuig en twee lede aan diens is 'n beduidende afname in alle misdaad, veral dranksmokkelary en die diefstal van besproeiingspype behaal, sê die wyksvoorsitter, mnr. Victor Sperling van die wynplaas Delheim.

Hy sê die hele gemeenskap begin groter vertroue in die polisie kry omdat mense sien dat die wag nie een sektor van die gemeenskap bo 'n ander bevoordeel nie. Hy sal egter wil hê dat meer boere in die gebied by die wag betrokke raak, sodat 'n tweede bakkie aangeskaf kan word.

Elke plaaswyk bereken sy eie tariewe op grond van die begroting wat deur die wag aan hom gegee word. Dit neem aspekte soos plaasgrootte en die aard van die boerdery in ag. Weens die groter afstande wat afgelê moet word en die laer bevolkingsdigtheid, is die maandelikse tarief per gesin aansienlik hoër as in die dorp. Dit wissel van R150 tot R1 200. Niemand word egter van die diens uitgesluit nie, al betaal hy of sy nie. Sommige mense betaal meer as die voorgeskrewe bedrag, en ander minder.

Die begroting vir 'n plaaswyk beloop van R42 000 tot R45 000 per maand. Sowat 80 % daarvan gaan aan personeeluitgawes, 13 % aan voertuigkoste en die res vir administrasie en reserwes.

Om in elke plaaswyk elke uur van die dag twee personeellede te hê, moet verkieslik tien, maar minstens nege personeellede aangestel word, naamlik agt mense wat in vier skofte patrollies ry, 'n persoon in die beheerkamer asook 'n reserwelid ingeval iemand siek is.

Patrollies word op lukrake wyse gedoen om sigbaarheid en onvoorspelbaarheid te verseker. Skole en kerke word gereeld gratis besoek. In elke wyk is daar vyf strategiese punte wat in elke skof vyf keer lukraak besoek word om te verseker dat lede bly rondbeweeg.

Elke voertuig van 'n plaaswyk lê maandeliks sowat 16 000 kilometer af en moet oor 'n tydperk van 12 tot 18 maande gefinansier word omdat dit dan weer vervang moet word.

Van Zyl sê die wag se personeel het verlede jaar altesame 250 000 uur gewerk, 800 000 km afgelê en sowat 3 000 verdagtes in 'n wye reeks misdade in hegtenis geneem. Honderdduisende rande se gesteelde goedere, insluitende vee en besproeiingstoerusting, is teruggevind.

Hoe die stelsel werk
Elke wyk wat deel is van die Stellenbosch-wag het sy eie bestuur. Dit bestaan uit vrywilligers wat geen vergoeding vir hul dienste ontvang nie, sê supt. Sakkie van Zyl, die wag se bedryfsbestuurder. Hy was voorheen sewe jaar lank stasiebevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Stellenbosch.

'n Wyk kies sy eie voorsitter en ál die wyke se voorsitters dien in die maatskappy se direksie. Daar word van die voorsitters verwag om ná elke direksievergadering terugvoer te gee aan die wyksbesture. Die maatskappy se direksie kom maandeliks bymekaar en vergader terselfdertyd met belanghebbendes, soos die munisipaliteit, die georganiseerde landbou, die weermag en die sakegemeenskap. Op hierdie vergaderings word misdaadinligting uitgeruil.

Wyksvergaderings word elke drie maande gehou en die wyksbesture vergader elke week. Die gemeenskap word deur middel van 'n nuusbrief ingelig gehou.

Die stelsel pas in by die polisie se beleid van sektorpolisiëring. Elke wyk is 'n polisiesektor en word bepaal deur die stasiekommissaris, met inagneming van faktore soos sy geografiese grootte, natuurlike grense, bevolkingsdigtheid, misdaadinligting en beskikbare hulpbronne.

In elke wyk is daar deurlopend minstens een toegewese voertuig en een of twee deeglik opgeleide, gekeurde en betaalde polisiereserviste. Hulle is gewapen en het ál die regte en pligte van 'n permanente lid van die polisie. Hulle mag net die wyk verlaat as daar 'n situasie elders opduik wat hul bystand vereis.

Die reserviste word deur die polisie aangestel en is onder die regstreekse beheer van die polisiekantoor se misdaadvoorkomingsoffisier en die oorhoofse beheer van die kantoorkommissaris. Die bestuurslede, direksielede en voorsitter van die wag mag glad nie instruksies aan die reserviste gee nie.

Wat kommunikasie betref, het die maatskappy 'n spesiale inbelnommer vir die gemeenskap. In sy beheerkamer in Stellenbosch is daar ook 'n polisieradio en 'n verkeersradio. Die polisie se noodnommer, 10111, kan ook gebel word. Elke patrollievoertuig het 'n polisieradio én 'n selfoon vir inkomende oproepe.

Om beheer oor die wag se voertuie uit te oefen, is 'n vlootbestuurstelsel in werking gestel. Die personeellid in die beheerkamer kan onder meer voortdurend op die rekenaarskerm sien waar enige voertuig is, of dit stilstaan of beweeg en teen watter snelheid dit ry. Dít het groot besparings meegebring omdat die wangebruik van voertuie uitgeskakel is.

12 Maart 2004