Landbou.com SAWeb
Unieke komitee bring vrede
MARITHA DU PLESSIS-SWART

'n Strategie van "as ons nie met mekaar praat nie, gaan ons baklei" het 'n unieke vredeskomitee tot stand gebring in 'n gebied wat voorheen gekenmerk is deur veediefstal oor die grens, wraak-aanvalle en etniese spanning. Veediefstal is nou uitgeroei, wraakaanvalle is heeltemal stopgesit en etniese spanning bestaan nie meer in dié gebied nie.

Veediefstal oor die grens heen en die wraakaanvalle wat daarop gevolg het en tot talle moorde gelei het, is nou iets van die verlede langs die suidelike deel van die grens van Lesotho met Suid-Afrika en die voormalige Transkei. 'n Paar jaar gelede het van hierdie boere gereeld oor die grens beweeg en voor die voet ander boere se vee gesteel en mekaar vermoor.

'n Beveiligingstrategie van Suid-Afrikaanse grensboere, waarby die SA Polisiediens (SAPD), die plaaslike kommando en plaaslike gemeenskappe betrek is, het ook daartoe bygedra om misdaad in hierdie omgewing te verminder. Boere van Lesotho en die voormalige Transkei is dit egter eens dat die afname in misdaad veral toegeskryf kan word aan die unieke strategie van inspekteur Kenny Moolman, 'n lid van Misdaadintelligensie op Aliwal-Noord.

Sy strategie van "as ons nie met mekaar praat nie, gaan ons baklei" het gelei tot die stigting van 'n vredeskomitee wat hoofsaaklik uit boere van Suid-Afrika en Lesotho bestaan. Volgens hierdie boere is dié komitee die eintlike rede waarom letterlik miljoene rande se veeverliese weens diefstal tot bykans nul afgebring is. Die talle wraakaanvalle oor die grens heen het ook heeltemal opgehou en etniese spanning bestaan nie meer nie. Veediefstal kom nog sporadies voor, maar diewe word vinnig opgespoor.

Die vredeskomitee wat in 1998 deur Moolman gestig is, word uit die volgende groepe en belanghebbendes saamgestel:

  • Die Suid-Afrika-Lesotho-grenskomitee bestaan uit boere van die voormalige Transkei, die distrik Rhodes en ook lede van die veediefstaleenhede van ál hierdie gebiede. Elke area het vier verteenwoordigers. Mnr. Michael Lamani (Sterkspruit) is die voorsitter en mnr. Mtoti Hlaza (Mount Fletcher) is die ondervoorsitter van die grenskomitee.
  • Die Lesotho-grenskomitee bestaan uit die Royal Mounted Lesotho Police, asook veediefstaleenhede naby die grens en grensboere. Die voorsitter van die Lesotho-komitee is mnr. Kabelo Rateleke en die ondervoorsitter is mnr. Khotso Mosonene.
  • Daar is ook kleiner informele gemeenskapsforums en reaksiegroepe met hul eie voorsitters aan albei kante van die grens. Vroue en kinders maak 'n belangrike deel hiervan uit omdat hulle, volgens Lamani en Rateleke, "skerp ore" het. "By die vredesvergaderings leer die kinders van kleins af reeds die regte etniese en morele waardes aan."

    Dié grensboere en hul komitees vergader gereeld op 'n informele basis op die grens om met mekaar oorleg te pleeg oor vermiste vee, om mekaar se vee terug te vind en om met nuwe strategieë vorendag te kom. Die komiteelede aan albei kante van die grens is in radioverbinding met mekaar en met lede van Operasie Charlie, 'n teen-veediefstalprojek van die SAPD en ook kommandolede.

    Word vee aan die een kant vermis, word dit blitsig per radio oorgedra aan die komiteevoorsitter aan die ander kant. Die betrokkene laat weet weer sy netwerk van informante en doen die nodige om die vee terug te besorg. " 'n Dief kom nie eens oor die grens nie, dan weet almal al klaar daarvan," sê Lamani en Rateleke.

    Volgens boere van Lesotho en die voormalige Transkei was die situasie voor die bestaan van die komitee (veral in 1995/96) 'n kookpot. Boere aan albei kante van die grens het mekaar letterlik gehaat. Hulle het mekaar besteel en dan aan albei kante van die grens byeengekom om vee terug te kry. Geweldpleging tussen verskillende groepe, asook talle wraakmoorde — met enige denkbare wapen om vermeende veediewe te straf — het byna daagliks plaasgevind.

    Selfs onskuldige burgers het deurgeloop. As 'n slagoffer van veediefstal nie dié een wat sy vee gesteel het, kon opspoor nie, sou hy die eerste die beste boer op sy pad se vee afvat en weier om dit terug te gee totdat die betrokke boer sy vee vir hom gaan opspoor het.

    Lesotho-burgers sê hulle het nie sake by die Lesotho-polisie aangemeld nie omdat Lesotho se polisie en weermag nie betrokke wou raak nie. Burgers van die voormalige Transkei het ook nie sake by hul polisiemag aangemeld nie omdat die Suid-Afrikaanse polisie se reaksietyd glo te stadig was. Hul woongebiede is boonop plek-plek só afgeleë dat dit soms tot twee dae duur om by die polisiekantore uit te kom. Dan het die polisie glo eers 'n paar dae daarna daarop gereageer.

    Uit vrees vir die geweld was die boere aan albei kante later te bang om self gesteelde vee agterna te sit. Hulle het uit desperaatheid na Moolman gegaan vir hulp. Volgens die boere van die voormalige Transkei was hy die enigste lid van die polisie wat werklik omgegee het.

    Die boere vertel daar is eers op hoë regeringsvlak aan albei kante van die grens geprobeer om die probleme hok te slaan, maar dit het nie gewerk nie. Lamani en Rateleke sê nie een van die regerings het die grensboere by dié samesprekings betrek nie. Gevolglik het dit misluk. "Die grootkoppe is nie self boere nie en woon nie hier nie. Hulle het sake probeer oplos waarvan hulle niks weet nie."

    Ná die totstandkoming van die vredeskomitee staan sake anders. "Onlangs het boere van Lesotho 12 gesteelde beeste wat in hulle area opgemerk is, aan hul eienaar in die voormalige Transkei terugbesorg. Voor die bestaan van die komitee sou dit nooit gebeur het nie," sê Lamani.

    Hy sê die boere laat mekaar deesdae dadelik daarvan weet as hulle vreemde vee in mekaar se gebiede ontdek. Hulle gaan gee ook die veediewe in hul eie omgewing by die vredeskomitee aan, of arresteer die veediewe self en oorhandig hulle aan die veediefstaleenhede.

    Mnr. Gerrit Henning van die plaas Mertoun by Rhodes het 'n groot rol gespeel in die strategie teen veediefstal wat vanuit Suid-Afrika bedryf word. Hy het baie nou met die vredeskomitee saamgewerk en hy sê Moolman verdien 'n goue medalje en 'n hoë regeringspos vir sy inisiatiewe.

    "Hy het die etniese spanning opgelos — iets waarby die Suid-Afrikaanse boere in die distrik Rhodes ook baat vind. Ons samewerking met die boere van die voormalige Transkei en Lesotho is nou goed."

    Boere in Lesotho en die voormalige Transkei kla dat die veediefstaleenhede van Mount Fletcher, Sterkspruit en Barkly-Oos selde, indien ooit, die vredesvergaderings bywoon. Boere van die voormalige Transkei sê die SAPD steek hulle in die skande. "Die Lesotho-polisie werk deesdae nou saam met ons, maar die Suid-Afrikaanse veediefstaleenhede kom byna nooit nie. As hulle nie betrokke raak nie, kan die komitee sy waarde verloor."

    Rateleke sê boere van Lesotho is baie tevrede met die werking van die vredeskomitee. "Nou is ons broers wat saam teen veediefstal as misdaad baklei. Ons kyk nie meer met etniese oë nie. Nou is 'n dief 'n dief, hy is ons almal se vyand. As 'n dief van my land (Lesotho) vee by my broers in Transkei of Rhodes gaan steel, is hy ook ons wetsgehoorsame Lesotho-burgers se vyand. Ons spoor hom op, trek hom vas, oorhandig hom aan die Lesotho-polisie en gaan gee die vee terug. Ons Suid-Afrikaanse broers doen dieselfde."

    Onlangse welslae
    Die sukses van die vredeskomiteevergaderings tussen grensboere van Suid-Afrika, die voormalige Transkei en Lesotho is weer bewys tydens 'n onlangse vergadering wat by die buitepos Cairntoul van Barkly-Oos se veediefstaleenheid gehou is.

    Mense met 'n belang by die vredeskomitee het van oral af opgedaag. Die eerste besprekingspunt was oor vyf beeste wat die vorige week uit die distrik Rhodes gesteel is. Ná twee uur se kopkrap, die ondervraging van veewagters en die uitruil van inligting, het dit aan die lig gekom dat die vee eers oor Lundeans-nek aan die Suid-Afrikaanse kant en toe oor die berugte Sinxondo-kruising na Lesotho gejaag is.

    Lede van die vredeskomitee is onmiddellik per radio van die polisiekantoor Cairntoul af daaromtrent ingelig en die polisie in Lesotho was reeds op die spoor van die veedief voordat die vergadering verdaag het. Twee dae ná die afloop van die vergadering was drie van die vyf beeste reeds opgespoor en was die polisie kort op die hakke van die ander twee.

    Die tweede besprekingspunt was klagtes van boere uit die voormalige Transkei dat sommige boere van Lesotho weiveld in die voormalige Transkei "steel" deur hul vee daar te laat wei. Op die vergadering is ooreengekom dat dit stopgesit sou word. Albei groepe boere sê dat dít op sigself 'n aanduiding is van die komitee se sukses. "Voorheen sou só 'n verskil tot 'n faksie-oorlog gelei het."

    Die Suid-Afrikaanse strategie
    Miljoene rande se veediefstalle, wraakaanvalle en moorde oor die grens heen was tot laat 1998 kenmerkend van die suidelike grens van Lesotho met Suid-Afrika. Wit en swart grensboere langs dié strook, wat 100 kilometer lank is en wat strek vanaf die Tellebrug-grenspos tot by Tsatsana Gates, het só verarm dat hulle later verplig was om hul plase te verlaat. Soveel as nege grensplase in die Rhodes-Wartrail-gebied alleen was in 'n stadium onbewoon.

    Dit was onmoontlik om tot so ver as 10 kilometer weg van die grens af ekonomies te boer. Grensplase is verkoop teen 'n skamele R150/ha.

    Tussen 1995 en 1997 is glo nagenoeg R5 miljoen se vee van Suid-Afrikaanse boere gesteel. Twee grensboere van Rhodes wat 'n kernrol gespeel het met die inisiëring van 'n Suid-Afrikaanse strategie teen veediefstal, mnre. Gerrit Henning van die plaas Mertoun en Stephanus Naudé van die plaas Dunley, sê in 1998 is in die distrik Rhodes binne ses maande sowat R500 000 se vee gesteel. "Dan praat ons nie eens van die veeverliese in die distrikte Sterkspruit en Mount Fletcher nie."

    Gedetailleerde statistieke van destydse veediefstalle en moorde oor die grens heen — waarby boere van die voormalige Transkei en Lesotho betrokke was — is onbekend omdat dit meestal nie by die polisie aangemeld is nie.

    Mnr. Michael Lamani van Sterkspruit in die voormalige Transkei, en voorsitter van die Suid-Afrika-Lesotho-grenskomitee, sê tot 500 skape en 150 beeste is maandeliks deur burgers van Lesotho gesteel. "Dit sluit nie bokke en donkies in wat voor die voet gesteel is nie. Die mense het mekaar summier vermoor tydens opvolg-operasies en dit het soms meer as een keer per maand gebeur."

    Mnr. Kabelo Rateleke, voorsitter van die Lesotho-grenskomitee, sê van 1994 tot 1998 is 15 000 skape en 500 beeste deur burgers van die voormalige Transkei van Lesotho-boere gesteel. "Net in Februarie 1998 alleen is 15 Lesotho-burgers ná die diefstal van vee deur burgers van die voormalige Transkei vermoor. 'n Terugsteelpoging oor die grens heen het selde sonder 'n moord of twee gepaardgegaan."

    Radelose grensboere in die distrik Rhodes het teen die einde van 1998 saamgespan en 'n teenstrategie ontwikkel waarby hulle die Oos-Kaapse kommando, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die plaaslike gemeenskappe betrek het. Inspekteur Kenny Moolman, 'n lid van Misdaadintelligensie op Aliwal-Noord, het daarbenewens ook 'n vredeskomitee gestig waar boere van Lesotho en Suid-Afrika eerder met mekaar "kon praat as baklei."

    Danksy dié gesamentlike poging, wat onder toesig van die gesamentlike operasionele ko?dineringskomitee funksioneer, het veediefstalle die afgelope vier jaar byna heeltemal opgehou. Boere het weer teruggekeer na hul plase en boerderybedrywighede in die grensgebied is weer in volle swang. Grensplase in die distrik Rhodes kos tans sowat R300/ha. Dit is dubbeld soveel as toe veediefstalle voorheen hoogty gevier het.

    "Dit is in skrille kontras met ander grensgebiede langs die grens met Lesotho (in KwaZulu-Natal en die Vrystaat) waar veediefstalle oor die grens heen steeds kilometers ver van die grens af voorkom," sê Henning.

    Hy en lt.kol. Skillie du Randt, bevelvoerder van die Oos-Kaapse kommando, sê Suid-Afrikaners besef nie die enorme ekonomiese en selfs nasionale impak van veediefstal op die breë ekonomie nie. Wanneer boere hul plase moet verlaat, word 'n niemandsland geskep. Die grens verskuif al hoe verder. Lesotho word dus `groter' en Suid-Afrika `kleiner', en die veediefstalareas skuif saam.

    Dit is dus in die Regering en die boere se belang om veediefstal stop te sit. Die feit dat daar geen grensposte bo-op die berge is nie, maar net 'n draadheining wat die lande van mekaar skei, vererger die probleem. Veediewe van Lesotho en Transkei beweeg maklik oor die grens. Hulle knip eenvoudig die drade en jaag vee deur.

    Danksy die vredeskomitee en die Suid-Afrikaanse strategie is 'n buffer gevorm wat verhinder dat veediefstalle voorkom. Dit het ook bygedra tot die vermindering in dwelmhandel en voertuig- en wapendiefstal oor die grens heen. Dit is veral die geval by die berugte Sinxondo-kruising oor die Tellerivier naby Sterkspruit, waar daar nie 'n grenspos is nie. Nóg 'n voordeel van die strategie is dat burgers uit Lesotho wat onwettig in Suid-Afrika is, vinnig geïdentifiseer en gedeporteer kan word.

    Só werk die plan
    As deel van die strategie teen veediefstal en misdaad langs die grens tussen Suid-Afrika, Lesotho en die voormalige Transkei, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Operasie Charlie van stapel gestuur. Die SAPD het vyf ou spoorweghouers in wooneenhede omskep, rooi geverf, en op strategiese plekke — langs bekende roetes wat deur veediewe gebruik word — langs die grens geplaas.

    Elke wooneenheid word deur twee mense beman wat deur die SAPD betaal word. Net lede van die plaaslike gemeenskap word gebruik. "Omdat hulle self vee aanhou, het hulle 'n persoonlike belang by die beskerming van hul eiendom, en hul daglone word teruggeploeg in hul eie gemeenskappe," sê mnr. Gerrit Henning van die plaas Mertoun. Hy is een van die mense wat 'n belangrike rol gespeel het in die inisiëring van 'n Suid-Afrikaanse strategie teen veediefstal.

    Die wagte doen daagliks voetpatrollies en gaan grensdrade na. Die houers is toegerus met polisie-radio's en 29 MHz-radio's. Die lede is ook deurentyd in verbinding met die grenspos van Barkly-Oos se veediefstaleenheid (Cairntoul-basis) en ander kommandolede.

    Permanente lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is met kommandolede uit die plaaslike gemeenskappe van die voormalige Transkei en Suid-Afrika vervang omdat die permanente lede nie suksesvol was nie. Die plaaslike kommandolede gebruik ook ses ou spoorweghouers, wat groen geverf is, as hul basisse. Die houers is op strategiese plekke geplaas tussen die ander houers wat deel is van Operasie Charlie en wel só dat die gebiede waarvoor hulle en die lede van Operasie Charlie verantwoordelik is, oorvleuel. Die houers is toegerus met selfone en B25- en 29 MHz-radio's. Die lede doen patrollies te voet en te perd. Hulle is gewapen en word gereeld afgelos.

    Volgens mnr. Michael Lamani, voorsitter van die Suid-Afrika-Lesotho-grenskomitee, en ook 'n grensboer en kommandolid, is kommandolede uit die plaaslike gemeenskappe suksesvoller as permanente lede omdat hulle self met vee boer en self onder diewe uit Lesotho deurloop. "Ons mense is arm en ons vee is ons `bank' — ons sal enigiets doen om dit te beskerm.

    "Anders as permanente SANW-lede, ken my mense die area. Dit is onherbergsaam, met strawwe en onvoorspelbare weerstoestande."

    Lesotho-diewe is natuurkinders. Hulle jaag vee met gemak oor die mees onherbergsame areas. "Ons kan die diewe makliker agternasit as permanente lede van die stad af, wat nie die weer ken nie, nie berge gewoond is nie en wat nie die diewe se taal ken soos ons nie."

    Lamani sê sy mense is arm en die kommando se daglone help hulle baie. "Elke kommandolid onderhou ten minste 50 mense. As die Regering die kommando wegvat, verloor ons gemeenskappe nie net 'n ekonomiese inspuiting nie. Die veediefstal-teennetwerk sal verswak en ons boere het nie geld om ander strukture in hul plek te vestig nie."

    Lt.kol. Skillie du Randt, bevelvoerder van die Oos-Kaapse kommando, sê in vergelyking met die koste verbonde aan permanente SANW-lede wat salarisse kry, is dit ook heelwat goedkoper om kommandolede uit die gemeenskap met die dagloon-betalingstelsel te vergoed. "Sodoende bly die geld ook in die gebied."

    Mnr. Kleinbooi Mthetho, 'n vrywilliger uit die gemeenskap en 'n legende in die gebied, is deur boere gewerf om die berugte Wartrail-Maartenshoek-veediefstalroete op te pas. Hy is bekend vir sy vermoë om veediewe uit te snuffel. Hy woon in 'n huisie op die grens en die huis is ook toegerus met B25- en 29 MHz- radio's en 'n selfoon. Hy doen daagliks voet- en voertuigpatrollies en word betaal uit die Lesotho-grensfonds.

    Grensboere van Rhodes het die Lesotho-grensfonds gestig om teen-veediefstalstrukture daar te stel en om vir die nodige kommunikasietoerusting en voertuie te betaal. Die boere uit Suid-Afrika, Lesotho en die voormalige Transkei sê dié fonds is 'n groot probleem omdat hulle nie finansieel sterk genoeg is om die fonds aan die gang te hou nie. "As ons regerings nie help nie, is ons hande afgekap wanneer die kommando's uitgefaseer gaan word."

    Die Lesotho-grensfonds word tans gefinansier deur die private sektor, landbou-organisasies en boere van die distrik Rhodes. Henning sê die plan is om grensboere van Rhodes volgens 'n sone-stelsel te laat betaal sodat daar 'n reserwefonds is vir wanneer die kommando's in 2009 uitgefaseer word. Boere sal soos volg vir grensbeskerming betaal:

  • Sone A geld vir die boere wat teenaan die grens bly (die eerste en tweede plaas weg van die grens af) — R1 500 per jaar.
  • Sone B geld vir die boere wat drie tot vier plase weg van die grens af bly, en boere wat deur die jare erg geteister is deur veediefstalle oor die grens heen — R1 200 per jaar.
  • Sone C geld vir ander plase wat in die gevaargebied lê ten opsigte van misdaad oor die grens heen, en wat danksy die strukture wat reeds bestaan, nie groot las van veediefstal oor die grens het nie — R1 000 per jaar.

  • Maritha Du Plessis-Swart is 'n vryskutjoernalis.

    9 Januarie 2004