Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans

Tuisblad
Nuus
Boerepraatjies
Wenke
 
Druk artikel
18/12/2003 12:53  - (SA)   E-pos storie aan 'n vriend
Gragte hou diewe weg
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Misdaad in die algemeen en veediefstal in die besonder dwing boere in KwaZulu-Natal om diep, breë slote om hul plase te grawe of elektriese heinings op te rig om hulle teen die misdadigers te beskerm.

Misdaad is 'n bose sweer wat elkeen in die samelewing raak, maar wat dit veral vir boere moeilik maak om voort te gaan met vesel- en kosproduksie

Swart en wit boere loop ewe erg deur en talle produktiewe plase lê leeg of plantasies staan waar vet vee vroeër in malse gras gewei het. Veiligheid is duur en jaag die pryse van landbouprodukte vir verbruikers op.

Mnre. Koos Marais, wat die veiligheidsportefeulje van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) hanteer, en John Black, een van die ondervoorsitters van die organisasie en boer van Boston, sê dit het boere gedwing om buitengewone stappe te doen om hul eiendom te beveilig.

Slote van sowat 2 m diep en 1,5 m tot 2 m wyd is om plase gegrawe — iets tussen 'n outydse grag wat aanvallers moes uithou en 'n loopgraaf vir oorlogsgebruik.

Die sloot om die plaas van mnr. Andrew Crookes, net suid van Howick, is sowat sewe kilometer lank en hulle weet van minstens ses plase waar dié voorsorgmaatreël getref is. Daar is waarskynlik heelwat meer, maar baie boere hou hul planne stil.

Die oogmerk met die slote is om dit vir misdadigers moeiliker te maak om vee en ander goed soos batterye en diesel van die plaas af weg te kry. Dat dit werk, is gewis, want sedert die slote gegrawe en die hekke op die oorgange versterk is, het diefstal in die meeste gevalle totaal opgehou. Die slote keer ook dat kilometers draadheinings deur booswigte weggedra word.

Die slote word met slootgrawers gemaak en dit kos sowat R10 000 per kilometer teenoor die sowat R3 000 vir 'n gewone draadheining.

Mnr. John Stewart van Seven Streams, Boston, boer op 160 ha waar hy 220 koeie per dag melk. Hy het só erg onder veediewe deurgeloop dat hy al agt jaar gelede 'n elektriese heining om sy plaas opgerig het. Toe het hy gemiddeld 12 koeie per jaar verloor.

Sedertdien was daar een poging om van sy koeie te steel nie, maar omdat die stelsel hom waarsku as daar 'n onderbreking voorkom, kon hy die diewe verwilder.

Hy het die heining sowat 200 meter weg gespan van die paaie waaraan sy plaas grens om te keer dat diewe sy koeie binne die heining kom slag en die vleis wegdra.

Maar wat dwing boere om tot dié uiterstes te gaan?

In die eerste nege maande vanjaar is 18 000 beeste gesteel, waarvan 8 000 teruggevind is, hoofsaaklik deur boere self op hul veldmotorfietse en perde.

In dieselfde tyd is sowat 10 100 skape gesteel, waarvan net 3 000 teruggekry is. En dan moet 'n mens onthou ál die diefstalle word nie eens aangemeld nie, hoofsaaklik weens swak polisiëring, sake wat nie opgelos word nie, mense wat aangekeer, maar nie vervolg word nie, maklike borgtog en parool. Talle swart boere woon ver van polisiekantore af, moet loop om sake aan te meld en los dit dikwels eerder.

Die veediefstaleenhede op die platteland doen hul bes met beperkte mannekrag en hulpmiddels, maar op die hoofpaaie is daar 'n gebrek aan sigbare polisiëring en gesteelde vee is dikwels binne 'n uur of twee in Durban waar dit verkwansel word.

Die gebiede wat die ergste getref word, is dié langs die Lesotho-grens en dié wat naby groot swart woongebiede lê. Daar is selfs gerugte dat gesteelde vee van die Oos-Londense hawe verskeep word.

Die vermoede bestaan dat sindikate agter die groot diefstalle sit, maar terselfdertyd heers daar ook kommer oor die gemak waarmee jagters met hul honde kommersiële plase betree.

Hulle daag in groepe van tot 100 op en hoewel hulle daarop uit is om wild te jag, is 'n bees of skaap gewoonlik ook nie te versmaai nie.

Dit alles dui op algehele wetteloosheid en geen respek vir die regstelsel nie.

Om 'n spilpuntbesproeiingstelsel te herstel wat van alle los onderdele gestroop is, kos 'n boer maklik R30 000, terwyl die gesteelde goed vir 'n paar rand aan skrootwerwe versmous word.

As die waarde van die vee wat gesteel is teen hul slagwaarde bereken word, het dié boere van Januarie tot September minstens R55 miljoen skade gely, maar daar was ook stoetdiere onder die gesteelde vee wat die bedrag waarskynlik tot digby R100 miljoen kan opjaag.

Vir 'n ontluikende boer kan die skade nog groter wees. Met 'n kudde van 20 diere kan hy maklik die helfte of ál sy vee verloor.

In gebiede soos Underberg het skaapgetalle die afgelope 12 jaar afgeneem van 85 000 tot sowat 7 000 en die getal teelkoeie in beesboerderye van 38 000 tot 24 000.

In dieselfde tyd is 38 plase aan houtondernemings verkoop wat plantasies gevestig het, en in Griekwaland-Oos lê sowat 14 000 hektaar landbougrond leeg as stille getuie van die tol wat misdaad eis. Op talle plase is veeboerdery met wildboerdery vervang.

Volgens die landbou-unie is daar net in KwaZulu-Natal in 1999 sowat 27 800 beeste, in 2000 sowat 29 300 beeste, in 2001 sowat 24 700 beeste en in 2002 sowat 22 000 beeste gesteel, terwyl boere sowat R80 miljoen per jaar bestee om hul plase te beveilig — en dit sluit nie die slote en veiligheidsheinings om plase in nie.

Boere, gemeenskap, kommando slaan harde hou
'n Unieke samewerkingstelsel tussen die kommando, boere en die gemeenskap in die noorde van KwaZulu-Natal is besig om misdaad bloedneus te slaan. Plaasaanvalle, die handel in onwettige wapens en ander ernstige misdaad het beduidend afgeneem. Die welslae van die doeltreffende samewerking in die noorde van KwaZulu-Natal kan uitsluitlik toegeskryf word aan die ywer waarmee vrywillige kommandolede, boere en die publiek saamwerk om die gemeenskaplike vyand die hoof te bied.

Een van die unieke stelsels wat in werking gestel is sedert kol. Alex Theron in 1995 die bevel van die Kommando Noord-Natal oorgeneem het, is twee satellieteenhede wat saam deur dié kommando en die boere beheer en bestuur word.

Kol. Theron, wat onder meer bygestaan word deur sersant-majoor Ben van Eck, sê in 1995 het die oudlede van die kommando weens verskeie redes belangstelling in die kommando en sy werk verloor.

Die Noorde van KwaZulu-Natal is 'n groot en moeilik begaanbare gebied wat oor 'n groot afstand aan Swaziland grens waarin plaasaanvalle, wapensmokkelary, veediefstal en ander misdaad gefloreer het.

'n Daadwerlike poging om die mense van die hele gebied weer te betrek, het gewerk en die stryd teen misdaad is met die hulp van die satellieteenhede met nuwe vuur en oortuiging aangepak.

Die eerste satellieteenheid is in 1996 gestig en geriewe is vir hulle op mnr. Hennie Coetzer se plaas Uitzigt, tussen Vryheid en Paulpietersburg, opgerig. Hy is lid van die kommando en hou oorhoofs toesig oor die sewe manskappe wat daar gehuisves word.

Die manskappe is vir agt werksdae in diens van die kommando en word in dié tyd deur die Weermag van voorrade voorsien en betaal. In dié tyd samel hulle inligting in wat gewoonlik uitloop op uitgebreide operasies deur die kommando en met die samewerking van die SA Polisiediens.

Ná die agt dae gee hulle hul weermaguniforms en wapens terug en vir die volgende twaalf werksdae word hulle deur die boere betaal en toegerus. Dit word met die samewerking van 'n sekerheidsmaatskappy gedoen.

Die hooftaak van dié manskappe, wat oor 'n lang tyd uitgesoek en ten volle opgelei is, is om gebiedspatrollies te doen, inligting in te samel en aan operasies deel te neem. Geen operasie word sonder 'n lasbrief aangepak nie en die polisie gaan ook altyd saam.

Alle inligting wat hulle insamel, word deur die bevelstruktuur van die kommando ontleed. Wanneer voldoende inligting beskikbaar is, word operasies beplan. Forumlede en boere van die hele streek is by die insameling van die inligting betrokke.

Om die manskappe te kan betaal en onderhou, het die boere 'n tjekrekening geskep waarin die boere se bydraes gedeponeer word. Die boere se bydraes word bepaal deur die grootte van hul grond.

'n Boer wat 'n plaas van 1 000 ha of minder het, betaal R182 per maand en vir elke volgende 1 000 ha betaal hy nog R182 per maand. Boere wat aan die projek wil deelneem, moet 'n aftrekorder teken om lid te kan word en kan die manskappe dan volgens 'n vasgestelde rooster gebruik vir patrolliewerk.

In onvoorsiene omstandighede word die rooster aangepas sodat dadelik aan ernstige sake aandag gegee kan word.

Hoewel die inisiatief van die kommando en die boere uitgaan, is die diens vir die hele gebied en ál sy inwoners. Aanvanklik was baie mense skepties oor die skema, maar die manskappe, onder leiding van luitenant D.D. Mabuza, het al sulke goeie werk gedoen dat hulle deesdae deur die meeste mense en ook die stamowerhede verwelkom word.

Intussen het nuwe inisiatiewe uit die verskerpte optrede voortgevloei. Met die skakeling het dit duidelik geword dat swart kommersiële en ontluikende boere net so erg deur die misdaad geraak word, sê mnr. Friedhold Nebbe, 'n boer van die omgewing.

Van die blanke boere het met die swart boere geskakel en 'n forum is gestig. Elke Woensdag word vergadering gehou en gemeenskaplike probleme bespreek en optrede beplan. Die manskappe van die satellieteenheid woon gewoonlik die vergaderings by.

Die werklike waarde van die forum het tot die gemeenskap begin deurdring toe 'n swart weduwee se beeskraal deur diewe leeggemaak is. Sedertdien is die samewerking meer spontaan en kon die forums uitgebrei word tot teen Swaziland se grens en tot in die meeste stamgebiede. Daar word nou saam met die kommando en die manskappe van die satellieteenheid gewerk en baie van die sake word deur die forum self opgelos. Selfs mense in woongebiede is nou by die forums betrokke.

Die kommando en blanke boere help hul swart kollegas om brandmerke geregistreer te kry en hul diere te brandmerk.

Die boere het ook 'n radionetwerk op die been gebring om skakeling te vergemaklik en optrede te koördineer en te versnel. Die netwerk is ook aan die militêre radionetwerk gekoppel.

Die vroue van kommandolede is by die gemeenskap betrokke met vigsopleiding, naaldwerkprojekte en ander bedrywighede wat op die opheffing van die gemeenskap gerig is en wat terselfdertyd goedgesindheid by die mense kweek om saam te staan teen misdaad.

Die stamowerhede word ook een keer per jaar genooi na 'n aanbieding waar verduidelik word waarmee die kommando besig is en hulle word dan genooi om saam te werk om misdaad hok te slaan.

Taxibestuurders neem ook deel aan die forums waar inligting uitgeruil word om booswigte op te spoor en vas te trek.

Die pogings was nie tevergeefs nie. Veediefstal het met 90 persent afgeneem, brandstigting kom beduidend minder voor en vanjaar van Januarie tot Oktober is 109 onwettige wapens opgespoor en 65 mense in hegtenis geneem, 53 gesteelde voertuie ter waarde van R1,59 miljoen is teruggevind en 35 motordiewe is aangekeer, 378 beeste ter waarde van R1,34 miljoen en 201 skape ter waarde van R80 000 is teruggevind en 23 veediewe is vasgetrek en 15,82 ton dagga is gevind.

Die kommando bestaan uit vyf kompanies met 374 manskappe en het `n reaksiemag op Vryheid en Paulpietersburg. Plaaswagte is die eerste reaksie-eenhede. Al die kommandolede is vrywilligers.

As die boere nie hart en siel by die stelsel betrokke is nie, kan dit nie werk nie. Maar in Noord-KwaZulu-Natal gaan dit goed en word dié diens vir die hele gemeenskap gelewer om die gebied veiliger te maak, sê kol. Theron.

Veediefstal vra vindingryke teenvoeters
Veediefstal in die grensgebied langs Lesotho dwing boere om vindingryke planne te maak om dié euwel hok te slaan. Die planne wissel van duur slote om plase tot 'n oorgrens-vredeskomitee en 'n plaaswagstelsel wat as 'n Artikel 21-maatskappy bedryf word.

In hierdie artikel vertel boere hoekom hulle so ver gegaan het om duur slote om hul plase te grawe. 'n Samewerkingsooreenkoms tussen die kommando, boere en die gemeenskap word ook bespreek.

In die volgende twee uitgawes word die unieke oorgrens-vredeskomitee en die plaaswagstelsel bespreek. Die vredeskomitee het gehelp om veediefstal feitlik heeltemal uit te roei in 'n strook van 100 km langs die suidelike grens van Lesotho.

In die gebied waar die plaaswag bedrywig is, behaal dit soveel sukses dat die boere wat daarby betrokke is, glo hulle sal nie onkant gevang word as die kommandostelsel in 2009 afgeskaf word nie.

19 Desember 2003

Boer vooruit met Landbouweekblad.
Teken in en wees verseker van jou eksemplaar.
Klik hier om Landbou.com se weeklikse elektroniese nuusbrief te ontvang.
Stel jy belang om op Landbou.com te adverteer?
Bel 021 406 2414
 Gespreksforum
Teken in op Landbouweekblad
 Stem
Gaan jy die Nampo-Oesdag later vandeesmaand bywoon?
Ja
Nee
Het nog nie besluit nie

Uitslag
 Geklassifiseerde advertensies
 Die Weer
  • Die weer op LW
  • Vandag se weer
  • SA Weerdiens
  • Kobus Botha
  • Sakkie Nigrini
  • Overberg
  • Waterwese
  • E-nuusbrief
    Google

    VRYWARING