Landbou
Tee vir 'n gesonde nasie
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Op die oog af lyk dit asof alles aan die heuningbosteebedryf se kant is: Suid-Afrika het die enigste genebank ter wêreld, die vraag na dié geurige tee groei en die gesondheidsvoordele is so reg in die kraal van vandag se welstandsbewuste samelewing.

Daar is egter twee vlieë in die teekoppie - bewusmaking onder Suid-Afrikaanse verbruikers kort 'n hupstoot en produsente wat met dié lonende gewas wil boer, moet naderstaan.

Mnr. Matie Taljaard, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Heuningbostee-vereniging (SAHTV) en een van die grootste heuningbostee- boere in Suid-Afrika, sê sowat 500 ton heuningbostee word in die land geoes.

"Gemeet aan enige ander teebedryf, is dit belaglik laag. Daar word sowat 12 000 ton rooibostee geproduseer."

Hy beklemtoon dat hulle nie met rooibostee wil meeding nie, maar 'n unieke produk, met unieke gesondheidsvoordele en smake in eie reg,wil vestig. Hy sien heuningbostee as "'n lekker nuwe toevoeging tot Suid-Afrika se kruie-tees".

Taljaard meen die potensiaal van die bedryf is minstens so groot soos rooibostee s'n, indien nie groter nie. "Tussen 70% en 80% van die tee kom nog uit die veld en dit is 'n tameletjie. Ons natuurlike genebank kry pak en ons wil graag vanuit 'n bewaringsoogpunt met Natuurbewaring saamwerk om beheer daaroor te kry sodat ons nie die genepoel verloor nie."

Hy sê die bedryf se krag lê juis in die genepoel, want nuwe seleksies word gereeld uit die veld gemaak. "Net 'n fraksie van die navorsing wat ons wil doen, is al gedoen.

Daaruit het ongelooflike gesondheidsvoordele na vore gekom. Dit verskil egter van plant tot plant binne die spesie. Daar is dus eienskappe binne die natuurlike genebank wat ons nog nie eens ken nie."

Taljaard sê hulle wil hierdie eienskappe optimaal aanwend om 'n ideale kultivar te kweek.Hy het egter die bewaring van plante in die veld (en daarmee saam die genepoel) bepleit. "Daar is geen manier waarop die natuur kan voorsien in die vraag nie. Ons moet dus kommersiële; aanplantings doen."

Boere kry tans sowat R3,50 per kilogram nat tee - volgens Taljaard is dit 'n rede om te glimlag.

Die nuwe seleksies stel boere in staat om - na gelang van plaas tot plaas - enigiets tussen 15 ton tot 30 ton tee per hektaar in intensiewe toestande te sny.

"Die SAHTV soek dringend nuwe toetreders - kommersiële; asook opkomende boere. Heuningbostee leen hom tot projekte met opkomende boere. Dit is betreklik maklik om te verbou en dit groei maklik op marginale grond. Hoewel, hoe beter jou grond is, hoe beter groei die tee."

Heuningbostee verkies grond met 'n lae pH-waarde. "Dit groei in enigiets van sanderige leem tot swaar skalie-grond."

Taljaard verduidelik die genusnaam is Cyclopia . Daaronder word 'n klomp spesies geklassifiseer, waarvan twee tans kommersieel benut word. Cyclopia subternata (vleitee) is op Kanetberg, Taljaard se plaas tussen Riversdal en Barrydale, geplant. Dié tee kom veral in die bergagtige fynbosstreke voor.

Cyclopia genestoides (kustee) groei langs die kus, in die sanderige vlaktes (waar die grond ook suur is). Cyclopia intermedia (bergtee)word nie kommersieel verbou nie, maar wel ekstensief in die natuur geoes.

Die teebos-steggies word in die winter geplant en die daaropvolgende Maart vir die eerste keer gesnoei. Dié eerste snoei gee aan die teebos 'n goeie vorm en ruk ook die digtheid daarvan reg.

Hoewel produksie in die tweede jaar al goed op dreef is, is dit eers in die derde jaar in volle produksie. Dit is nog nie bekend hoe oud 'n aangeplante teebos kan word nie, maar Taljaard vermoed dit sal sowat 15 jaar wees voor die plantasie vervang moet word.

Oestyd is tussen Maart en Julie - 'n lekker lang tydperk wat aan die boer die geleentheid gee om die oes fyn te bestuur.

"Die boer kan bepaal wanneer hy of sy dit wil afhaal."

'n Teeboerdery is nie uitermate arbeidsintensief nie. Die tee word met lugdrukskêre gesnoei. 'n Gemeganiseerde oesmasjien word ook ontwerp.

Plantmateriaal wat nog nie 'n jaar oud is nie, moet liefs om smaakdoeleindes nie geoes word nie. Die oes moet ook afgehaal word voor die bos begin saad dra.

"Met elke nuwe seleksie word die sterkgroeiendste plante gekies. Die plant kan hom dus letterlik dooddra aan saad," ver- duidelik Taljaard oor die bosse se produksiepotensiaal.

Heuningbostee groei in die fynbos-bioom en is inheems, daarom is die waterverbruik "'n myl beter as enigiets anders wat jy kan plant. In droogte-tye val die produksie, maar die plante vrek nie. Dit kan droogtes oorleef sonder nadelige gevolge."

Die produksiekoste per hektaar wissel na gelang van ekstensiewe en intensiewe verbouing. Taljaard beraam dit egter op R55 000 tot R60 000 per hektaar vir intensiewe verbouing. Die plante in plantasies, wat van kommersieel geselekteerde plantmateriaal af kom, is bykans 100 % ekonomies lewensvatbaar. Plante in ongeselekteerde saailingplantasies is net 15 % ekonomies lewensvatbaar.

"Jy sny jaarliks twee derdes van die biomassa af, maar kan dit nie met plante uit die veld doen nie, want die meerderheid wil dan nie hergroei nie."

Heuningbostee is ryk aan fito-estrogene (dit beveg prostaatkanker by mans en borskanker by vroue) en is 100 % kafeïenvry.

Boonop het dit 'n heerlike smaak, effens soet, en is sonder tannien. Dit los dus geen vrank smaak in jou mond nie.

Die Europeërs;, en veral die Duitsers, is gaande oor die eg Suid-Afrikaanse produk. Hulle drink dit nie net nie, maar gebruik dit ook in grimeerprodukte en mengsels. In Griekeland is 'n heuningbos-ystee onlangs bekend gestel.

Die ironie is dat bitter min Suid-Afrikaners die tee ken en drink. Dit is ook haas onverkrygbaar in die land. Taljaard sê dít is een van die heuningbosteevereniging en die bedryf se vernaamste uitdagings.

"Dit is 'n tweesnydende swaard. Dit is belangrik om die tee aan die binnelandse mark bekend te stel, maar daarvoor het ons ook nuwe toetreders (aan produksiekant) nodig. Produksie moet met die vraag groei, maar dit gebeur nie so nie. "Baie min van die tee is plaaslik beskikbaar.

Die SAHTV, as beheerliggaamvan die bedryf, het besluit hy wil dit verander."

Taljaard sê dit gaan deur promosies op landbouskoue gedoen word. Hy beveel aan dat mense wat heuningbostee soek, die vereniging moet kontak. "Ons werk baie hard daaraan om die tee meer te versprei."

Dit is ook belangrik dat die tee wat verkoop word, van 'n uitmuntende gehalte is.

As 'n verbruiker eers 'n tee van swak gehalte geproe het,word hy baie maklik daarvan afgesit. En dan is dit bitter moeilik om hom of haar terug te wen.

'n Ander uitdaging is volgehoue navorsing. "Die produk het met die bietjie navorsing wat reeds gedoen is, so baie gesondheidswaarde opgelewer. Daarom is ek seker daar is nog baie voordele waarvan ons nie eens weet nie," sê Taljaard.

Landbouweekblad, 1 Februarie 2008