Landbou
Nelson-wynlandgoed kry vrouewynmaker


In pas met 'n internasionale neiging onder top wynprodusente om vroulike finesse by hul wyne te voeg deur vrouewynmakers aan te stel, het die Nelson-wynlandgoed onlangs dieselfde gedoen. Maar eienaar Alan Nelson het verder gegaan deur die wynmaakverantwoordelikheid op die familieplaas van 135 hektaar in die heuwels aan die voet van die Paarlberg aan sy dogter Lisha (25) toe te vertrou.

Lisha sluit by die Nelsons se seun Daniel aan wat die afgelope drie seisoene reeds in beheer is van die sowat 60 hektaar wingerd op hierdie Suid-Afrikaanse wynlandgoed.

Die komende seisoen (2008) sal die eerste wees waartydens die hele gesin intiem betrokke by die hele wynmaakproses op die landgoed sal wees. "Ons besef dis 'n vuurdoop vir Lisha in 'n uiters mededingende wynbedryf," sê Alan. "Ons is dus baie bly dat wynmaker Michael Dobrovic van Mulderbosch vriendelik ingestem het om as ons konsultant en Lisha se mentor op te tree vir die volgende paar seisoene."

Lisha is sowel filosofies as realisties oor haar nuwe verantwoordelikhede. "Dit is belangrik om passievol oor wynmaak te wees anders nie is dit net 'n beroep en nie 'n roeping nie, maar dit is ewe belangrik om realisties te wees en die wetenskap van wynmaak te benut om te verseker dat ons die beste wyne op die mark produseer, asook die wyne wat almal sal geniet.

"Wynmaak is sowel 'n kuns as 'n wetenskap," sê die jong wynmaker.

Lisha is 'n selferkende perfeksionis in die kelder en fanaties oor die wetenskap en higiëne; van wynmaak. Nadat sy haar BSc-graad in wingerdbou en wynkunde Cum Laude aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het sy aan haar MSc begin werk oor die onderwerp Brettanomyces, 'n organisme wat die natuurlike geure van wyn negatief raak.

Maar Lisha betree nie die harde en mededingende wêreld van wyn suiwer as 'n akademikus sonder enige praktiese ervaring nie. Twee seisoene met Dobrovic in die kelder op Mulderbosch en nog een by Stonestreet Winery in Kalifornië in die VSA het haar 'n stewige grondslag gegee. Voeg nou hierby Lisha se akademiese prestasies, en mens besef dat sy miskien wel dit het wat nodig is om heelbo uit te kom.

18 Desember 2007