Landbou
Chinese wil by SA leer
Deur JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

China is die afgelope paar jaar op almal se lippe. Die ongelooflike groei wat in dié Oosterse reus plaasvind, is asembenemend - en nie net plaaslik nie, maar wêreldwyd word dit met ontsag gadegeslaan. In baie lande - ook Suid-Afrika - sien instansies, bedrywe en die landbou dit as 'n gulde geleentheid om 'n deel te hê aan China se golf van voorspoed. Maar daar is ook diegene wat die opmars van die Chinese ekonomie met vrees gadeslaan.

Alles in China is in die oortreffende trap en uiterstes is aan die orde van die dag. Ook wat vrugteboerdery betref.

In 1978 was daar sowat 13,4 miljoen ha landbougrond, wat alles volgens die sosialistiese regeringstelsel aan die staat behoort. Chinese appelboere in die provinsie Shaanxi kweek hul appels op klein lappies grond van gemiddeld drie tot vyf mu groot (15 mu is sowat een hektaar).

Dié oppervlakte het weens verstedeliking en ander ontwikkeling gedaal tot net onder 12,4 miljoen hektaar in 2003. Daarvan is sowat 25% onder besproeiing en 75% droëland.; China se landbou het in 2005 14,8 % tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra en word deur sy regering as 'n belangrike sektor beskou - nie net vir kosproduksie vir die bevolking van 1,3 miljard nie, maar ook in die opheffing van die bevolking se lewenstandaard.

In 1978 was die netto maandelikse inkomste per kop van 'n Chinese boer 'n skamele 134 RMB (yuan) - 'n yuan is sowat R1 - wat gestyg het tot 'n gemiddelde van 2 622 RBM in 2003. Dit help al baie met die opheffing van die landelike bevolking. In die stede het salarisse gemiddeld van 343 RMB per kop in 1978 gestyg tot 8 500 RMB per kop.

Van 1978 tot 2003 het die stedelike bevolking vanaf 172 miljoen gestyg tot 524 miljoen. Volgens berekeninge het sowat 150 miljoen boere en landelike mense na die stede verhuis. Daar is egter steeds sowat 380 miljoen boere.

Dit is bekend dat China die grootste appel- en peerprodusent ter wêreld is. In 2005 het dié land meer as 25 miljoen metrieke ton appels van 'n totale wêreldproduksie van sowat 77,3 miljoen metrieke ton geproduseer. Dit is sowat 32% van die wêreldproduksie. In dieselfde jaar was die Suid-Afrikaanse appeloes net meer as 305 000 metrieke ton.

Wat pere betref, het China 11,6 miljoen metrieke ton in 2005 geproduseer. Dit was meer as 53 % van die totale wêreldproduksie van sowat 21,65 miljoen metrieke ton. In Suid-Afrika is in 2005 net minder as 139 000 metrieke ton pere geproduseer.

Die gemiddelde appelproduksie in China is maar 'n lae 10 ton tot 15 ton per hektaar op sowat 1,8 miljoen hektaar. As dit net tot 'n gemiddelde opbrengs van 40 ton/ha verhoog kan word deur bloot moderne tegnologie te gebruik, kan die totale wêreldproduksie daardeur verdubbel word.

Hoe lyk die Shaanxi-provinsie waarvandaan so 'n groot deel van China se appels en pere kom?

Die diepte van die grond is verbysterend. Wat sou plaaslike vrugte- en gewasboere nie wou gee om vrugbare leemgrond van net twee meter diep op die plaas te hê nie. Daarom sal min boere seker glo dat vrugbare loes - 'n geelbruin, kalkagtige grond - in groot dele van die Shaanxi-provinsie gemiddeld 80 m tot 200 m diep is.

Shaanxi, met Xi'an as hoofstad - wat veral bekend is vir die keiserlike grafkelders gevul met terracotta-soldate wat in 1974 per ongeluk ontdek is toe boere 'n put gegrawe het - het meer as 840 000 hektaar onder vrugtebome, waarvan appels alleen sowat 462 000 ha uitmaak. Die jaarlikse opbrengs van appels is meer as 6,5 miljoen ton, wat dié provinsie die grootste appelproduserende gebied maak wat 24% van die land se appels produseer en wat 11% van die wêreld se totale appelproduksie lewer.

Mnr. Wang Zhenxing van die Shaanxi-vrugtebedryfburo sê "groot" appels (Fuji's) word reeds sedert 1928 op groot skaal geplant, maar het sedert 1970 sterk toegeneem. Sowat 630 000 ton appelsap word in Shaanxi geproduseer. Sowat 47,4% oftewel 320 000 ton, van China se totale appeluitvoer, het in 2006 uit die provinsie gekom.

Hy sê gehalte is vandag - anders as 'n dekade of so gelede - die kern waarom appelproduksie draai en in die afgelope paar jaar het die gehalte jaarliks met 5% toegeneem. Shaanxi-appels het onlangs 'n gehalte-beoordelingspunt van 68% behaal, wat 30% hoër; as die nasionale punt is. Hy skryf dit grootliks toe aan nuwe tegnologie, die gebruik van beter toerusting en plaagbestryding.

Die ideaal is dat 'n punt van 80% teen 2010 behaal word en dat meer as 'n miljoen hektaar dan onder vrugteboorde sal wees met 'n produksie van 12 miljoen ton per jaar. Daarvan sal 530 000 ha met 'n opbrengs van 8 miljoen ton net appels wees.

In dié stadium kan China nie naastenby in sy eie binnelandse verbruik van appels voorsien nie. Dié uitbreiding in produksie word as 'n maatreël; gesien om meer selfvoorsienend te raak - veral in die stedelike gebiede.

En dit is alles waarskynlik binne bereik. Die grond is uiters vrugbaar. Dit is 'n loes-tipe windgewaaide grond wat oor derduisende jare vanuit die Gobiwoestyn in die Shaanxi-gebied neergeset is en feitlik nêrens minder as 80 meter diep is nie. Op sommige plekke is dit selfs 200m tot 300m diep.

Hoewel dit duidelik is dat die Chinese nog 'n paadjie het om te loop met hul appelproduksie, geniet navorsing baie hoë voorrang. Dit is duidelik dat die mense wil leer en hul tegnologie wil verbeter. Die meeste Fuji-appelboorde in Shaanxi bestaan nog uit ruie appelwoude waarvan die plantdigtheid 500 tot 900 bome per hektaar is. Die bome is nie op bankies gevestig nie en snoeiwerk word nie wetenskaplik gedoen nie. Soms is die appelbosse so ruig dat dit vir 'n Westerling (wat gewoonlik 'n bietjie langer as die gemiddelde Chinees is) moeilik is om tussen die appelbome te beweeg.

Die praktyk is egter nou vinnig besig om plek te maak vir 'n algeheel wetenskaplike benadering waarin "normale" weten-skaplike praktyke en plantrywydtes gevolg word.

Produksie is grootliks organies. Baie min chemiese beheer vind plaas. Min van die gewone appelsiektes kom voor. Uitdunning vind ná bot met die hand plaas. Elke appel word individueel in 'n papiersakkie toegedraai waar dit aan die boom hang. Die sakkies bestaan uit twee lae. Namate oestyd nader kom, word 'n papierlaag "afgeskil". Net voor oestyd, word die sakkies heeltemal verwyder en die groengeel appel hang aan die boom. Binne drie tot vyf dae verkleur die appel tot 'n pragtige, helderrooi blos en kan dan gepluk word.

Ondanks die digtheid van die bome, die ietwat onwetenskaplike snoeimetodes en uitdunning, is die appels groot (200g tot 220g), soet en sappig. Namate appelproduksie meer wetenskaplik benader word, sal die gehalte van die vrugte nog verbeter.

Landbouweekblad, 2 November 2007