Landbou

Mnr. Carel Minnaar besoek een van die plukspanne tydens oestyd.
Foto: Andries Groenewald

Soortgelyk
Jong boer reik na wolke
Deur ANDRIES GROENEWALD (agroenew@landbou.com)

Agri Limpopo se aanspraakmaker op Toyota se Jongboer van die Jaar-titel, mnr. Carel Minnaar, het 'n passie vir boerdery en sy oë mis niks op P.A. Minnaar-boerdery se grond in die Constantia-gebied langs die Letabarivier, noordoos van Tzaneen, nie.

Die Minnaars, Carel en sy pa, Piet, boer op meer as 3 000 ha met sitrus, mango's, groente en wild wat gerugsteun en aangevul word deur 'n vervoeronderneming en 'n boormaatskappy.

Volgens Carel het sy oupa, ook Carel, die Constantia-grond in 1934 gekoop. Oupa Carel het ook eiendom in Haenertsburg, teen die berg anderkant Magoebaskloof, gehad waar hy in die somer gebly het. Hy het in die winter groente op die Constantia-grond verbou.

Danksy die lae ligging en hoë temperature was dié gebied uiters geskik vir groenteverbouing in die winter wanneer dit in die ander groenteverbouingstreke te koud was daarvoor. Weens die uitermate hoë temperature, muskiete en malaria was dit destyds in die somer onmoontlik om in die laerliggende Constantia-gebied te bly.

Dié wêreld was nog só onbewoon en ongerep dat oupa Carel die perdekar moes inspan om werkers vir sy groenteboerdery te gaan soek.

Hoe dit ookal sy, oupa Carel se groenteboerdery is mettertyd uitgebrei na sitrus. In later jare het die Minnaars hulle op die Constantia-grond gevestig toe dié gebied meer bewoonbaar geword het, en Piet (Carel se pa) het saam met sy pa begin geboer. Vandaar die naam C.P. Minnaar en Seun, wat vandag nog op die vragmotors pryk. Die groente en sitrus moes gepak en vervoer word wat 'n pakhuis en 'n vragmotor genoodsaak het. Die boerdery het stelselmatig gegroei en gediversifiseerd geraak.

"Ek het hier op die plaas tussen die groente en sitrus en vragmotors grootgeword," vertel Carel. Hy het op Letsitele en Tzaneen skool gegaan en in 2000 'n graad in landbou-meganisasie aan die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna is hy plaas toe om in vennootskap met sy pa te boer.

Die boerdery kry sy waterkwota uit die Tzaneen-dam en pomp dit uit die Letabarivier. Groot gronddamme op die plaas dien as opgaardamme wanneer die toegekende kwota nie dadelik ten volle gebruik word nie of wanneer daar vloedwater in die riviere is. Die afgelope drie jaar word net 50% van die kwota weens waterbeperkings toegeken.

Die Minnaars vestig alle hoop vir die herstel van hul volle waterkwota op die voltooiing van die nuwe Nwamitwadam, wat nie te ver van hul boerdery af is nie. Dit is juis met die bou van die nuwe dam in die vooruitsig dat hulle twee jaar gelede nog grond aangekoop en nuwe sitrusaanplantings gevestig het.

Tans beslaan die sitrusaanplantings sowat 430 ha en bestaan dit uit verskillende kultivars suurlemoene, nawels, pomelo's en Valencia-tipes wat hoofsaaklik uitgevoer word. Dit word in 'n ultra-moderne pakhuis verpak wat spog met 'n optiese Compac-gradeerder wat tydens die installasie daarvan drie jaar gelede die eerste in sy soort in Suid-Afrika was.

Die boerdery voldoen aan Eurepgap-standaarde (vir uitvoer na Europa) en aan die Nature's Choice-vereistes wat deur die winkelgroep Tesco in Brittanje gestel word. "Ons is die grootste enkele Valencia-verskaffer uit Suid-Afrika aan Tesco. Sowat 20 % van ons uitvoer gaan na Engeland en die res na Europa, Kanada, die Verre-Ooste, Japan, Korea en selfs ook nou na China. Ons het vanjaar byna 500 000 kartonne eie sitrus van 15 kg elk verpak en 'n verdere 480 000 kartonne uitvoersitrus vir ander boere wat nie hul eie pakgeriewe het nie," sê Carel.

Mango's word op meer as 100 ha verbou en hoofsaaklik as vars vrugte aan die plaas-like mark gelewer. Dit word ook vir verwerking tot atjar aangebied. Dié oes word in 'n afsonderlike pakhuis verpak.

Die oppervlakte wat elke jaar vir groente geoormerk word, wissel na gelang van die seisoensverwagting en die beskikbaarheid van water. Dit kan tot 200 ha beslaan. Ver-skillende soorte pampoene waaronder grys-neut ("butternuts"), boerpampoene, Hubbard-pampoene en skorsies word onder spilpuntbesproeiing verbou.

Hulle verbou ook groen- en brandrissies wat ook, waar enigsins moontlik, as tussengewas saam net nuut aangeplante sitrusboompies verbou word. "Ons het al saadmielies onder die spilpunte gehad, maar jy moet sommer 'n uithaler-saadmieliejaar hê om pampoene te klop," vertel Carel.

Die wildboerdery op byna 1 000 ha naby Letsitele sluit 'n teelprogram in vir die bedreigde swartwitpense. Daar is ook witrenosters op die plaas. Geen kommersiële; jag word op die plaas toegelaat nie. Carel se oudste suster, Anél, staan aan die spits van reëlings; in die vervoeronderneming. Dit bestaan uit 37 Mercedes-Benz-vragmotors wat met hul kenmerkende helder oranje sleepwaens ry. Hulle ry hoofsaaklik vrugte en vars produkte na Pretoria, Johannesburg en ander markte in Gauteng, asook na Bloemfontein, Kimberley, Pietermaritzburg en Durban. Soveel moontlik terugvragte, soos sement, hoendervoer en kunsmis, word gereël.; Die vloot doen ook die meeste van Houers Koöperatief, die kartonfabriek op Letsitele, se aflewerings.

Vyf opgeleide werktuigkundiges hou die vragmotors, trekkers en werktuie in stand. Die boerdery het 'n geakkrediteerde Mercedes-Benz-werkwinkel en versien al sy vragmotors van nuut af self. Carel vertel ook dat hul werkwinkels meer onderdele aanhou as byna enige handelaar omdat hulle ver is van die stede en 'n betroubare diens moet lewer met die vervoer van vars produkte.

Carel was self op 'n rekenaarkursus by DaimlerChrysler en help soms met die rekenaar-dienste van die nuwer vragmotors. Carel se opleiding in landbou-meganisasie is van groot waarde wanneer nuwe werktuie of laaibakke vir die vragmotors gebou, herstel of verbeter word. Sy kop en hande staan vir niks verkeerd nie, want hy het self die boerdery se uitgebreide rekenaarnetwerk geïnstalleer en die nuwe pakhuis elektries bedraad.

Die boerdery se boorbesigheid, Letaba Bore, bedryf drie lugdrukbore wat hoofsaaklik boor vir water vir huishoudelike gebruik en vir skole in veral die nabygeleë swart gemeenskappe.

Carel sê die verpakking en uitvoer van sitrus is sy hoofverantwoordelikheid en wat die res betref, help hy sy pa. Hy beskou dit as 'n groot voorreg om sy pa, wat einde verlede jaar as Agri-Letaba se Boer van die Jaar aangewys is, as mentor te hê en leer soveel moontlik van hom.

"Ek en my pa neem saam besluite en dit is lekker om saam met hom te boer, al stem ons nie altyd saam nie. Ons persoonlikhede verskil nogal en dit bied dikwels die voordeel dat twéé perspektiewe oorweeg kan word voordat ons 'n finale besluit neem. Ons is dalk nie die beste boere nie, maar ons doen 'n groot verskeidenheid dinge baie goed!" sê Carel.

Elke dag begin met 'n vergadering van die senior personeel waar probleme bespreek en die dag se take uitgedeel word. Dié vergaderings word gewoonlik bygewoon deur Piet, Carel, die bestuurders van onderskeidelik die plaas, pakhuis, werkwinkel en bore asook twee plaasvoormanne. Die boerdery het 'n heeltydse personeelbestuurder wat na die 350 permanente werknemers omsien asook na die belange van sowat 650 seisoenwerkers.

Net soms, sê Carel, wens hy hy het nog 'n broer gehad wat kon help met alles wat gedoen moet word, want die gediversifiseerde boerdery hou hulle reg deur die jaar besig.

Volgens Carel lees 'n mens gereeld hoe die getal kommersiële; boere minder word. Een van die probleme is dat gemiddeld net drie uit elke vyf jaar goeie landboujare is en die kleiner kommersiële; boere sukkel dikwels om finansieel te oorleef weens 'n gebrek aan hulp van die owerheid se kant af. Sitrusboere in Spanje kry byvoorbeeld tot 30% subsidies en Suid-Afrikaanse boere moet met hulle meeding.

Wat grondhervorming betref, sê Carel, is dit jammer dat die Regering nie die nuwe grondeienaars finansieel ondersteun wanneer hulle eers op die grond is om te doen wat hulle moet doen nie. Dit duur vyf jaar voordat 'n sitrusboer die eerste inkomste van sy aanplanting verdien en boere gebruik baie diesel vir die bespuiting van bome en die vervoer van vrugte.

Die sitrusboere sukkel ook met genoeg arbeid in die pluktyd. Volgens Carel is dit harde werk en die plaaslike werkers is onwillig om dit te doen. Daar is wel baie gewillige werkers uit Mosambiek, maar die boere sukkel om werkspermitte vir hulle te kry.

Hoewel daar grondeise teen hul grond is, is dit nog nie in die Staatskoerant aangekondig nie, want daar is waarskynlik probleme met die geldigheid daarvan. Carel se raad aan ander jong boere is om moed te hou ongeag struikelblokke, soos minimum lone en grondeise, want die landbou bied selfs vandag nog baie uitdagings én geleenthede.

"Bly op die hoogte met nuwe tegnologie, werk hard en waag slegs berekende kanse. Die landbou is interessant omdat nie een dag of seisoen dieselfde as 'n ander dag is nie. In die landbou kan jy nou wel 'n resep hê van hóé om dinge te doen, maar jy moet dit voortdurend kan aanpas," sê Carel.

Carel is, benewens sy druk program op die plaas, ook sekretaris van die Constantia-boerevereniging, leierdiaken in sy kerk en lid van die plaaslike vliegklub. Net soos die landbou, is vlieg ook 'n passie en tyd agter die stuurstok van sy Cessna 210 is vir hom spesiaal. Maar nóg meer spesiaal is sy passie vir vroulief Marleen en hul kroos, die tweejarige Pedrie en baba Jani.

Landbouweekblad, 26 Oktober 2007