Landbou
Nuwe grondveseenheid vir Sapo
Deur JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

Sapo Trust, die plantverbeteringsorganisasie van die sagtevrugtebedryf op Stellenbosch, het onlangs sy nuwe grondveseenheid op die Tygerhoek-proefplaas naby Riviersonderend amptelik in werking gestel. Sowat 25ha gaan uiteindelik onder steen- en kernvrugte asook tafeldruiwe aangeplant word.

Die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie (Sapo Trust) het pas sy grondveseenheid na die Tygerhoek-proefplaas buite Riviersonderend verskuif. Dit was op Fleurbaix by Stellenbosch, maar die afgelope sowat nege jaar is reeds na 'n geskikte alternatiewe perseel gesoek.

Sapo Trust is verreweg die grootste organisasie in sy soort in die land en dien die sagtevrugtebedryf almeer as 33 jaar.

Die perseel op Fleurbaix, wat reeds sedert die laat 1980's die grondvesblokke gehuisves het, het ondanks sy sentrale ligging tog sekere tekortkominge gehad. Goeie grondvesblokke is afgesonder van ander vrugsoorte en dit is nie altyd die geval op Fleurbaix nie.

Mnr. Ferdi van Zyl, sake-eenheidsbestuurder vir patologie en registrasie,het met die inwydingseremonie op Tygerhoek gesê dit het risiko's vir die tafeldruiwe en steenvrugte ingehou. Boonop het kernvrugte nie goed aangepas daar nie. Ná die afskaling van die nasionale Departement van Landbou se sertifiserings- en inspeksiedienste, asook virustoetse, is 'n eie kernfasiliteit in 1998 op Fleurbaix gevestig, maar die soeke na 'n ander geskikte perseel het voortgeduur. Verskeie persele is ondersoek.

Tygerhoek se ou proteapersele het onder Sapo Trust se aandag gekom. Ná onderhandelinge met die Wes-Kaapse department van landbou is verlede jaar 'n langtermynhuurkontrak van tien jaar, met die opsie om dit met minstens nog tien jaar daarna te verleng, beding.

Van Zyl sê daar is dadelik aan die werk gespring om die perseel van sowat 25ha skoon te maak en te ontbos voordat met grondvoorbereiding begin is. Besproeiingsbeplanning is gedoen, pompe geïnstalleer en geboue is opgeknap. Benewens die grondveseenhede is grondveskwekeryeenhede ook daargestel. Aanvanklik is beoog dat dit teen Maart 2010 gereed moes wees, maar deur harde werk is dit reeds in September vanjaar ingewy. Grootskaalse aanplantings is al vroeër; vanjaar gedoen.

Die kerntonnels en hoofkwartier van Sapo Trust bly egter op Fleurbaix, sê hy. Twaalf personeellede sal uiteindelik die eenheid op Tygerhoek bedryf, van wie vyf vanaf Stellenbosch daarnatoe verskuif.

Me. Joyene Isaacs, hoof van die department van landbou in die Wes-Kaap, wat die inwydingseremonie waargeneem het, het gesê dié projek is 'n voorbeeld van hoe goeie vennootskappe in die landbou funksioneer. Die vennootskap tussen haar departement en Sapo Trust is 'n wen-situasie vir die landbou en vrugtebedryf in die provinsie as geheel.

Die vrugtebedryf is uiters belangrik in die Wes-Kaap en met die nuwe grondvesperseel kry dit nou 'n stewige basis waarop dit verder kan groei. Sy het die department van landbou in die provinsie se heelhartige samewerking hierin beloof.

Sapo Trust was vroeër; vanjaar ook in die nuus toe hy 'n ISO 9001-sertifisering vir uitstekende bestuur ontvang het van SAI Global, 'n Australiese serti.seringsmaatskappy met verteenwoordiging in meer as 100 lande. Dit het Sapo Trust se internasionale aansien sodanig in die kollig geplaas dat dit nou as een van die bestes in sy soort ter wêreld gereken word.

Landbouweekblad, 26 Oktober 2007