Landbou

Rooiblos-pere behaal uitsonderlike pryse op die wêldmarkte en Suid-Afrika is die toonaangewende verskaffer daarvan. Foto: LNR
Soortgelyk
Nuwe pere laat wêreld regop sit
Deur TAAIBOS HUMAN

'n Blos-peer met 'n kersierooi wang en miniatuur-peertjies uit Suid-Afrika behoort eersdaags die wêreld te laat regop sit. Dit hou ook prysvoordele vir plaaslike produsente in.

Rooiblos-pere behaal uitsonderlike pryse op die wêreldmarkte en Suid-Afrika is die toonaangewende verskaffer daarvan. Die ontwikkeling van nuwe peerkultivars vir die Suid-Afrikaanse sagtervrugtebedryf is 'n tydrowende en duur navorsingsproses. Nuwe, ingevoerde peerkultivars is gewoonlik swak aangepas by Suid- Afrikaanse klimaatstoestande. Om die plaaslike peerbedryf mededingend op wêreldmarkte te hou, is dit noodsaaklik om nuwe, unieke, klimaatsaangepaste en winsgewende kultivars te ontwikkel.

Die peerteelprogramvan die Landbounavorsingsraad (LNR) se Infruitec-Nietvoorbij-instituut vir Vrugte,Wingerd En Wyn het twee rooiblos-kultivars ontwikkel, naamlik Rosemarie en Flamingo. Hierdie kultivars is ongeveer 14 jaar gelede aan die Suid-Afrikaanse peerbedryf beskikbaar gestel. Hierdie twee kultivars het uitsonderlike pryse op Europesemarkte behaal omdat Suid-Afrika van die min lande ter wêreld is wat rooiblos-pere kan produseer.

'n Hele reeks rooiblos-peerseleksies (van vroeg tot laat ryp) van dié LNR-teelprogramword tans verder saam met die Sagtevrugte-produsentetrust (SPT) en sekere Suid-Afrikaanse bemarkers geëvalueer.

Een van hierdie nuwe blos-pere is só belowend dat daar die afgelope seisoen reeds aansoek gedoen is omplanttelersregte, met die oog op beskikbaarstelling. Hierdie blos-peer het die groot voordeel dat dit nie die bloskleur tydens hoë temperature verloor nie ('n groot probleem by bestaande blos-pere). Verder is die blos 'n baie helder kersierooi, wat die produk besonder aantreklikmaak.

Die goeie smaak van dié rooiblos-peerseleksie ná opberging is 'n groot verbetering op die bestaande bloskultivars, wat ná opbergingmeestal 'n middelmatige smaak het.

Die ontwikkeling van nuwe peerkultivars met 'n prominente rooi blos wat winsgewend verbou kan word, bly 'n voorrangsaak binne die instituut se peerteelprogram. Die program is wêreldwyd bekend vir die ontwikkeling van sulke pere.

Afgesien van die rooiblos-kultivars en -seleksies wat tans binne die programontwikkel word, word daar ook verskeie miniatuur-pere ("baba-pere") in die evaluasieboorde op die LNR se proefplaas by Grabouw-Vyeboom ontwikkel. Wat hierdie pere so besondersmaak, is dat dit 'n tipiese peervorm het,maar betekenisvol kleiner as normale peerkultivars is. Nóg 'n unieke eienskap van sommige van die miniatuur-peertjies is dat die vruggies regstreeks van die boomaf geëet kan word.

Verskeie miniatuur-peerseleksies met besonderse kleure, soos 'n rooi blos, is reeds deur die programontwikkel. Die LNR is tans besig om met 'n plaaslike bemarker van vrugte te onderhandel vir die eksklusiewe uitvoer en bemarking van hierdie pere.

In die lig van die uniekheid en die nismarkpotensiaal van hierdie produkte, word voorsien dat die verpakking en bemarking spesifieke aandag salmoet geniet omverdere waarde tot die produk toe te voeg.

Daar kan met sekerheid aanvaar word dat daar slegs 'n beperkte vraag na miniatuur-pere sal wees. Die vraag sal egter vinnig toeneemsoos die produkmeer bekend word en die reeks verder vergroot word.

Miniatuur-peertjies kan onder meer vir dekoratiewe garnering in die restaurantbedryf gebruik word, in die voorbereiding van nageregte en veral as gesogte vrugte vir kleuters. Groot belangsteling is ook uit die lugvaartbedryf ontvang, waar dit uiters geskik kan wees vir kosbediening aan boord van vliegtuie.

'n Mensmoet aanvaar dat nog navorsing nodig sal wees voordat hierdie miniatuur-vruggies op die rakke te sien sal wees,maar weens die groot belangstelling daarin is daar die afgelope seisoen aansoek gedoen omplanttelersregte op vyf van hierdie seleksies,met die oog op beskikbaarstelling.

Daar is wêreldwyd 'n soeke na verbeterde en winsgewende peerkultivars. Tans is daar wêreldwyd min peerkultivars wat suksesvol gekommersialiseer word. Die feit dat daar boonop wêreldwyd 'n oorproduksie van pere bestaan,maak dit vir produsentemoeilik omwinsgewend te bly. Die instituut saam met die SPT het dit juis ten doel om met die voorsiening van nuwe, verbeterde kultivars nuwe lewe in die plaaslike peerbedryf te blaas.

Vrugte se opbergvermoë bekyk
Die lang afstande tussen Suid-Afrikaanse produsente en hul uitvoermarkte vereis kultivars wat 'n goeie opbergvermoë het.

Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, se teel- en evaluasieafdeling het in die 2006/'07-seisoen talle vrugtemonsters geëvalueer.

Die instituut het 'n koelkamerkompleks met verskeie gewone koelkamers en beheerde-atmosfeerkoelkamers asook rypmaakkamers waarin proefvrugte opgeberg word.

Die eerste vrugte word gewoonlik einde Oktober ontvang en die laaste vrugondersoeke geskied in Augustus van die daaropvolgende jaar. Vrugte van verskillende gebiede en wat by verskillende grade van rypheid gepluk is, maak die resultate meer betroubaar.

Kultivars word ook 'n paar seisoene lank ontvang om die effek van klimaat en verbouingstoestande te evalueer. Finale gehalte-evaluasie geskied ná 'n raklewe-tydperk. 'n Volledige reeks gehalteparameters word vir elke vrugtipe geëvalueer. Groot klem word op die voorkoms van interne defekte gelê, aangesien dit vertroue in plaaslike kultivars ernstig kan benadeel.

Navorsers kan op grond van dié projek besluit of belowende kultivars of seleksies geskik is vir beskikbaarstelling aan die plaaslike sagtevrugtebedryf.

  • Mnr. Taaibos Human is verbonde aan die Infruitec-Nietvoorbij-instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn op Stellenbosch.

    Landbouweekblad, 26 Oktober 2007