Landbou
Nuwe planne met pannekoek
ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Pannekoek. Die eerste gedagte wat dié woord by my laat opkom is...kerkbasaar. Baksters wat in 'n lang ry agter gasstofies staan en goudbruin, gespikkelde pannekoeke op velle waspapier laat uitgly, met 'n dik laag kaneelsuiker toegooi en oprol. En die eindelose wag in 'n lang ry in die koue kerksaal voor jy eindelik voor kom om joune te koop. Daar is baie te sê vir basaarpannekoek. Maar het jy geweet dat dié nederige lekkerny (met 'n bietjie ekstra aandag) verhef kan word tot die deftigste nagereg - ideaal vir enige onthaal?

Daar is baie soorte en variasies, maar die bekendste soorte pannekoek is die drie hier onder.

Tradisionele pannekoek
Die een wat ons almal ken. Dit is dikker en groter as crêpes.

500 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
2 ekstra-groot eiers
625 ml melk
15 ml gesmelte botter

Sif die droë bestanddele saam en maak 'n holte in die middel. Klits die res van die bestanddele saam en voeg by. Klits tot goed gemeng. Laat staan vir 1 uur. Voeg water of melk by as beslag te dik is. Verhit 'n bietjie olie in 'n pannekoekpan en giet net genoeg beslag in die pan om die bodem te bedek as jy die pan kantel. Braai vir 1 minuut of tot borrels op die oppervlak verskyn en die pannekoek van die kante van die pan begin wegtrek. Draai om met 'n eierspaan of slaplemmes. Braai aan die ander kant tot gaar.

Lewer ongeveer 25 pannekoeke.

Crêpes
Dun, ligte pannekoekies van Franse oorsprong. Kan met soet óf sout vulsels en souse bedien word en is gewild as voor- of nagereg.

300 ml koekmeelblom
1 ml sout
3 ekstra-groot eiers
250 ml melk
125 ml water
15 ml brandewyn
15 ml gesmelte botter

Sif die meel en sout saam. Maak 'n holte in die middel. Klits die eiers, melk en water goed saam en voeg by die bestanddele. Klits stadig om te meng en dan vinniger tot 'n gladde beslag vorm. Roer die brandewyn en gesmelte botter by en laat staan vir 30 minute. Giet 'n dun lagie van die beslag in 'n klein pan wat met 'n bietjie botter of olie gesmeer is. Braai oor matige hitte vir een minuut, draai om en braai tot gaar aan die ander kant.

Lewer ongeveer 18-20 klein crêpes.

Plaatkoekies
Plaatkoekies is eg Amerikaans, maar is dwarsoor die wêreld gewild. Die Amerikaners eet dit tradisioneel vir ontbyt met brosgebraaide spek en esdoringstroop bo-op. Die moontlikhede daarmee is eindeloos - dit kan soet of sout voorgesit word en gegeur word met bykans enigiets.

Die Russe het 'n variasie wat met gis gemaak word - blinis. Dit is kleiner as Amerikaanse plaatkoekies en word gewoonlik (met suurroom en kaviaar bo-op) as happie met drankies bedien.

375 ml bruismeel
5 ml bakpoeier
10 ml strooisuiker
Knippie sout
2 ekstra-groot eiers
310 ml melk
60 g gesmelte botter

Sif die droë bestanddele saam. Klits die eiers, melk en gesmelte botter saam en voeg by die droë bestanddele. Meng tot 'n gladde, dik beslag. Laat staan vir 15 minute en skep dan lepelsvol in 'n warm pan met 'n bietjie olie. Braai tot goudbruin aan albei kante en sit voor.

Swartwoud-pannekoekstapel
12-14 pannekoek van ongeveer 22 cm (nie té dun nie)
250 ml gladde bessie of kersiekonfyt, effens verhit
10 ml kersielikeur
200 g gerasperde donker sjokolade OF fyn gekrummelde Flake
125 g geroosterde haselneute, velle verwyder en fyn gekap
250 ml room, sag geklop
4 ekstra-groot eierwitte
125 ml strooisuiker

Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas 'n pannekoek op 'n oondbaste opdienbord. Meng die konfyt en likeur en smeer 'n dun lagie op die pannekoek. Sprinkel 'n dun lagie sjokolade of Flake oor, gevol deur 'n klein bietjie gekapte haselneute. Smeer 'n dun lagie geklopte room oor en bedek met nog 'n pannekoek. (Oppas om die lagies vulsel te dik te maak, anders loop dit uit en sny moeilik.) Herhaal die lae en eindig met 'n pannekoek bo-op. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepelsgewys by. Hou aan klits tot dik en blink. Smeer die meringuemengsel rondom en bo-op die pannekoekstapel. Maak seker die hele stapel is bedek. Bak vir 5-10 minute tot die meringue goudbruin is. Sit skywe voor met 'n bessie- of sjokoladesous.

Genoeg vir 10 mense.

Gemmer-en-pralien-nagereg
Gemmer en piesang bly 'n lekker kombinasie. Hier word dit met gekarameliseerde neute gekombineer en die eindresultaat is heerlik.

Piesangroomys:
4 oorryp piesangs, baie fyn gedruk
1 blik (397 g) kondensmelk
250 ml room
3 ml vanieljegeursel

Pralien
100 g pekanneute
250 ml witsuiker

Pannekoeke
1 x crêpe-beslag
1/2 pakkie (100 g) gemmerkoekies

Maak die vorige dag die piesangroomys: Klits die fyngedrukte piesangs en kondensmelk goed saam. Klop die room styf en klits by die piesangmengsel in saam met die vanieljegeursel. Gooi in 'n metaal- of plastiekbak en sit in die vrieskas vir 'n uur of twee of tot die mengsel sag gevries is. Klits dit weer goed deur om groter yskristalle op te breek. Bedek en vries oornag.

Vir die pralien: Sit die neute en suiker saam in 'n pan en verhit stadig oor lae hitte tot die suiker smelt (maar moenie kook nie). Roer gedurig. As al die suiker gesmelt is, verhit tot die mengsel borrel en prut ot dit 'n diep goue kleur het. Giet dit op 'n vel aluminiumfoelie (wat liggies met olie gesmeer is) en smeer effens plat met 'n houtlepel. Laat hard word en kap in growwe stukke met 'n mes. Bêre in 'n lugdigte houer.

Vir die pannekoeke: Laat staan die crêpe-beslag vir 30 minute. Verwerk intussen die gemmerkoekies in 'n voedselverwerker tot baie fyn krummels. Sprinkel oor die beslag en meng goed. Braai die crêpes soos gewoonlik, maar gooi 'n bietjie meer beslag in die pan vir effe dikker pannekoeke.

Sit roomys voor op pannekoeke, sprinkel pralien oor en bedien met botterkaramelsous

Crêpes gevul met wintervrugte
1 x crêpe beslag
fyngerasperde skil van 1 groot lemoen

Botterkaramelsous
90 g botter
200 g bruinsuiker
30 ml gouestroop
75 ml room

Vulsel
2 Granny Smith appels, geskil en in blokkies gesny
2 ryp pere, geskil en in blokkies gesny
45 ml botter
60 ml ligte bruinsuiker
sap van 1 groot lemoen
segmente van 1 lemoen
45 ml lemoenlikeur

Laat staan die crêpe-beslag vir 30 minute. Roer die fyngerasperde lemoenskil by die beslag in en laat staan vir nog 10 tot 15 minute. Braai die crêpes soos normaalweg.

Vir die sous: Verhit die botter, suiker en stroop stadig oor lae hitte tot al die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en laat prut stadig vir 'n paar minute. Voeg die room by, verhit weer tot kookpunt en prut tot dik.

Vir die vulsel: Braai die appel- en peerblokkies in die botter tot ligbruin. Sprinkel die suiker oor en verhit tot gesmelt. Braai tot die mengsel begin karameliseer. Voeg die lemoensap by en verhit tot kookpunt. Voeg die segmente en likeur by en kook deur.

Vul elke crêpe met 'n lepelvol van die vulsel en sit voor met skinkroom en botterkaramelsous.

15 Julie 2005